FOTO: Verskaf
VIA (DStv-kanaal 147) en die Afrikaanse musiekbedryf se grootste onafhanklike platemaatskappy, Coleske Artists, is op soek na die volgende groot Afrikaanse kunstenaar.
In die nuwe TV-reeks Die Kontrak, wat later vanjaar op die Afrikaanse leefstylkanaal uitgesaai gaan word, sal agt aspirant-sangers dit uitspook om ’n gesogte platekontrak. Die Kontrak se mentors – Elvis Blue, Tarryn Lamb, Monique Steyn en Dewald Wasserfall – sal uit die aansoeke die agt talentvolste kandidate kies.
FOTO’S: Verskaf
Elk van hulle stap die kompetisie binne met ’n platekontrak. Die uitdaging is egter om die kontrak te behou, want aan die einde van elke episode word een kontrak deur die grootbaas, Arnold Coleske, opgeskeur. En teen die einde van die reeks ontvang net die wenner ’n kontrak met Coleske Artists.
Deur die loop van die reeks sal die agt aspirant-sangers ook week na week uitgekyk word deur ’n paneel van drie kenners: die musieksterre Corlea Botha en Theuns Jordaan en die kreatiewe regisseur van die Afrikaans is Groot-megakonserte, Barry Pretorius.
Die opwindende program sal deur Afrikaanse musiek se goue broer-en-suster-duo, Bobby en Karlien van Jaarsveld, aangebied word.
As jy die volgende groot Afrikaanse kunstenaar is, skryf nou in.
Skryf só in
Daar is twee maklike maniere om in te skryf. Neem eenvoudig ’n video waar jy jou gunsteling-liedjie sing en:
- Laai dit op die NetNuus-app se video-afdeling as jy wil seker maak jou video word nie misgekyk nie. Sê
ook vir ons in dié video wie jy wil hê moet jou mentor wees. Onthou om die hutsmerk #diekontrak te
gebruik.
OF
- Laai jou oudisie-video op Facebook of Instagram, tag die mentor van jou keuse en gebruik die
hutsmerk #diekontrak. - Sê wie jy is, hoe oud jy is en waar jy vandaan kom.
Inskrywings open Maandag 21 Mei 2018 en sluit Saterdag 30 Junie om middernag.
Kyk die lokprent hier: