Coleske Artists (2017)
[yasr_overall_rating]
Die immergewilde Steve Hofmeyr se 30ste album, Skree wat onlangs uitgereik is, maak weereens van daardie baie gewilde narratiewe aanslag gebruik waarmee hy jare gelede reeds die harte van soveel aanhangers gewen het. Dié uitreiking word deur ’n roemryke loopbaan voorafgegaan waarin daar reeds meer as 2 miljoen van sy albums verkoop is en sowat 200 van die liedjies uit sy pen opgeneem is. Hierdie Suid-Afrikaanse superster met sy growwe stem en unieke sin vir humor het deur die jare heen vir sy nostalgiese huldeblyke, pittige sêgoed en sterk sosiale kommentaar bekendheid verwerf.
Skree gebruik ’n geestelike of andersins ’n satiriese benadering om ondersoek in te stel na die fyn lyn wat daar tussen liefde en haat asook oorwinning en teleurstelling sowel as hoop en wanhoop bestaan. Steve het oudergewoonte byna al veertien snitte op hierdie album self geskryf met die uitsondering van Loper waar Danny Smoke ook hand bygesit het sowel as die titelsnit, Skree wat Riana Nel en Elvis Blue geskep het. Danny Smoke wat die meeste van die verwerkings en programmering op dié album behartig het, kan ook op die klawers sowel as die kitare saam met Juan “Floors” Oosthuizen en Fred den Hartog gehoor word. Ricus Nel lewer egter ’n onontbeerlike bydrae met sy baskitaar, pedal steel, banjo en mandolien om daardie eietydse country klanke na vore te bring.
Die titelsnit, Skree beskryf die tekortkominge en die uitdagings van ’n verhouding waarin twee geliefdes voortdurend baklei en op mekaar skree. Die “skree” in hierdie duet met Riana Nel verwys egter ook na die onuitgespreekte vrese, bekommernisse, frustrasies en woede waaraan mense eers hardop uiting moet gee voordat daar werklike genesing vir hulle kan ontstaan. Derick Taljaard maak van oorwegend donker beligting gebruik vir die album omslag waarop die intensiteit in Steve se oë hierdie paradoks net nog verder beklemtoon wanneer die album titel deur sy geslote mond weerspreek word.
Die eerste enkelsnit vanaf dié album, Feeslied is ’n inspirerende liedjie propvol hoop vir die toekoms waarin die luisteraars aangemoedig word om die lewe te vier deur te doen waaroor hulle passievol is. Loper vertel nes Steve se multiplatinum treffer, Pampoen hoe die skrywer na al sy omswerwinge besluit om na die meisie van sy drome terug te keer en uiteindelik by haar nes te skop. Langkoebaai wat aan die glorieryke dae van Laaste Lag herinner, maak van verskeie beelde gebruik om die finaliteit van die afskeid tussen die skrywer en sy geliefde te kan bepaal.
Redgebed vertel hoe die skrywer by monde van Jona 2:4-6 na God om hulp roep nadat hy besef het dat Sy redding en genade al is waarop hy as ‘n mens nog kan staatmaak. Government Song vertel hoe ’n arm kroeg musikant van De Aar met sy liedjie aan oom Jan op die regering se belastingsbedrog sowel as hulle aanslag op die taal, kultuur en grond van die Afrikaner sosiale kommentaar lewer. Die ander potensiële treffers sluit in Ek is, Voetsêkdag, Breek jou belofte, Hoe maak ons, Kapok en Val in my.
Dié introspektiewe album met sy eerlike lirieke bied ’n ongesensorde blik op Steve se lewensreis tot dusver wat vir ’n boeiende ervaring sorg vanaf die heel begin totdat die laaste note aan die einde wegsterf. Sy moderne vermenging van pop, rock, country en folk musiek getuig nie net van sy ongelooflike veelsydigheid as ’n kunstenaar nie, maar ook van sy verbysterende vermoë om tot enige gehoor te kan spreek. Skree wat eintlik soveel meer vrae as antwoorde aan sy luisteraars bied, sal ongetwyfeld aanklank vind by enigeen wat hulself al ooit in ’n vernietigende verhouding of situasie bevind het.