Van die skilderagtige wynlande van Franschhoek tot die opname-ateljee waar van Suid-Afrika se bekendste treffers ontstaan, is Ollyvans ’n bewys dat kreatiwiteit veel meer as een vorm kan aanneem.
As die musiekvervaardiger agter treffers van kunstenaars soos Juan Boucher, Tasché en Refentse, het hy reeds ’n stewige voetspoor in die Afrikaanse musiekbedryf gelaat. Sy eerste produksie was die ikoniese “Suiderkruis” deur sy groep Red Sheep, en sedertdien het hy gehelp om die klank en musiek van verskeie bekende kunstenaars te vorm.
Musiek is egter maar een deel van hierdie veelsydige kreatiewe gees se wêreld. Wanneer hy nie agter die mengbank sit nie, vind ’n mens hom tussen die wingerde in Franschhoek, waar hy en sy familie hul passie vir wynmaak uitleef. Die familiewyn, De Leeuwen Jagt, spog met ’n trotse geskiedenis, terwyl Ollyvans ook besig is om sy eie Shiraz, Olly Vines, te ontwikkel.
Nou maak hy weer ’n draai voor die mikrofoon. Ná sy debuutduet saam met Tasché verlede jaar, tree Ollyvans met sy nuwe enkelsnit, “Op Ys”, verder na vore as kunstenaar – dié keer met ’n liedjie wat ’n besonder persoonlike verhaal vertel.
“Op Ys” draai om ’n liefde wat nog nie heeltemal tot ’n einde gekom het nie. Dit vertel die verhaal van twee mense wat besef dat hulle tyd nodig het, maar steeds die moontlikheid koester dat hul paaie eendag weer sal kruis. Dit is ’n verhaal van afstand en verlange, van probeer aanbeweeg terwyl die hart nog aan die verlede vasklou.
Met treffende lirieke soos “’n dubbel in my glas, maar enkel in my hart” en “Ek proe whiskey op jou lippe, my hart is op die klippe oor jou”, word die teenstrydigheid van ’n gebroke hart vasgevang: die poging om pyn te verdoof, terwyl herinneringe en onuitgesproke gevoelens steeds aanwesig bly.
Die liedjie kombineer eerlike storievertelling met ’n moderne Afrikaanse popklank en bied luisteraars ’n blik op ’n ander kant van Ollyvans se musikaliteit. Dit is ’n liedjie vir almal wat al moes aanvaar dat liefde soms tyd nodig het, selfs wanneer die gevoelens nie eenvoudig verdwyn nie.
As musiekvervaardiger weet Ollyvans hoe om ander kunstenaars se stories in klank te omskep. Met “Op Ys” kry hy egter die geleentheid om self die verteller te wees en ’n emosie aan te pak wat baie mense sal herken.
Of hy nou musiek vervaardig, tussen die wingerde werk of self die verhoog betree, bly kreatiwiteit die draad wat alles verbind. Met “Op Ys” bewys Ollyvans dat sommige stories eenvoudig te persoonlik is om nie self te vertel nie.
