Suid-Afrikaanse radio-omroeper, akteur, stemkunstenaar en sanger-liedjieskrywer Francois van Rensburg slaan ’n nuwe musikale rigting in met sy jongste enkelsnit, “Onafgerond” – ’n eerlike en emosionele lied oor die dele van onsself wat steeds groei, genees en gevorm word.
Die liedjie, wat deur Pieter Pruis geskryf is, het Francois onmiddellik aangegryp toe hy dit die eerste keer gehoor het. Volgens hom verwoord “Onafgerond” ’n gevoel waarmee baie mense hulself kan vereenselwig – die besef dat ons almal steeds besig is om te ontdek wie ons is en wie ons bedoel is om te wees.
“Ek dink baie van ons voel soms onafgerond – asof ons nog besig is om te word wie ons bedoel is om te wees. Toe Pieter vir my die lied speel, het dit my dadelik emosioneel getref,” sê Francois.
Francois is veral bekend as een van die gewilde stemme op GROOTfm 90.5, maar het ook sy merk as akteur gemaak met rolle in plaaslike televisiereekse, waaronder “Diepe Waters” op kykNET. Met “Onafgerond” wys hy egter weer ’n ander kant van sy kreatiewe talent en deel hy ’n meer persoonlike en introspektiewe deel van homself met luisteraars.
Musikaal kombineer die enkelsnit punk-, pop- en rock-elemente, wat die emosionele boodskap ’n energieke, maar steeds opregte klank gee. Die lied is vervaardig deur Christiaan Jacobsz (CH2) en by Home Harmonics Studio opgeneem, terwyl Rogan Kelsey die mastering behartig het.
“Onafgerond” herinner luisteraars daaraan dat dit nie nodig is om alles reeds uitgepluis te hê nie. Soms is die mooiste deel van die reis juis om te aanvaar dat ons steeds groei, verander en ons eie storie verder skryf.
