Ná die suksesvolle uitreiking van sy kortspeelplaat, “Arende en Engele”, einde 2024, het Len Muller geen tyd gemors om 2025 met ’n vars klank en nuwe energie te begin nie. Sy splinternuwe enkelsnit, “Soos ’n Engel”, het reeds groot opspraak gemaak en beloof om ’n gunsteling onder luisteraars te wees.
“Soos ’n Engel” is ’n Afrikaanse popliedjie met ’n feestelike en dansbare ritme wat vinnig aanhangers lok. Dié liedjie handel oor bewondering, liefde, en hoe spesiaal iemand jou kan laat voel. ’n Kort uittreksel van die snit is onlangs op TikTok gedeel en het binne slegs 12 dae meer as 200 000 kyke gekry – ’n duidelike bewys van die massiewe belangstelling in hierdie nuwe treffer.
LEES OOK: Len Muller bring hulde aan sy gesin met nuwe kortspeler en enkelsnit
Volgens Len is hierdie liedjie ’n opwindende nuwe rigting vir hom: “‘Soos ’n Engel’ is ’n romantiese liedjie met ’n dansbare ritme wat ’n bietjie anders is as my gewone klank. Ek is baie trots op hierdie projek en kan nie wag dat mense dit hoor nie! Dit is een van my vrou se gunstelinge, en sy vra nou al vier jaar dat ek dit moet opneem. Die titel is baie simbolies – dit verwys na die gevoel van bewondering. Dit is ’n metafoor vir die manier hoe liefde iemand ophef en inspireer.”
Len het aan “Soos ’n Engel” geskryf oor ’n tydperk van vier jaar, en die gewilde sanger en liedjieskrywer Juan Boucher het later ’n gedeelte van die tweede vers bygedra. Die produksie is in die bekwame hande van Gideon Botes, wat die energie en emosie van die liedjie perfek vasgevang het.
Die inspirasie agter die liedjie is die magiese gevoel van verlief wees en hoe ’n spesiale persoon jou lewe kan verander. Len wou iets skep wat luisteraars herinner aan die wonder van liefde. “Dit is ’n positiewe liedjie wat ek hoop mense sal laat goed voel – die wêreld het meer van daardie energie nodig. Dit is ’n liedjie wat jy saam met vriende en familie kan geniet by enige geleentheid,” voeg Len by.
Saam met die enkelsnit is daar ook ’n beeldskone musiekvideo vrygestel. Die video is geskiet op die asemrowende Scarborough-strand en in die Kalkbaai-hawe, wat die natuurlike en egte tema van die liedjie komplimenteer. Die regie van die video is behartig deur Len se vrou, Chanél Muller, wat ’n unieke en persoonlike aanslag tot die projek gebring het. Die talentvolle Nico Welgemoed was verantwoordelik vir die kinematografie en redigering.
Len beskryf die musiekvideo as ’n visuele vertolking van die emosie in die liedjie: “Ek wou iets visueel skep wat kykers se verbeelding vang en hulle emosioneel raak. Die eenvoud en simboliek in die video laat die storie van die liedjie uitstaan. Dit was ’n ongelooflike ervaring om saam met my vrou hieraan te werk – dit is nie net ’n liedjie nie, maar ’n kreatiewe viering van liefde, familie en musiek.”
Kyk die musiekvideo hier:
Terwyl “Soos ’n Engel” reeds diep spore trap, is Len Muller besig om aan ’n splinternuwe album te werk wat later in 2025 vrygestel sal word. Sy aanhangers kan ook uitsien na ’n reeks optredes regoor die land, insluitend sy terugkeer na die gewilde Innibos-fees in Nelspruit in Julie 2025.
Met hierdie opwindende nuwe musiek en sy vars, energieke klank is dit duidelik dat Len Muller in 2025 ’n groot rol in die Afrikaanse musieklandskap gaan speel. “Soos ’n Engel” is reeds besig om harte te verower en beloof om ’n hoogtepunt in sy loopbaan te wees.