Tamlyn Wessels het die musiekbedryf stormgeloop met haar gewilde treffer, “Klein Bietjie”, en nou is sy terug met nóg ’n liedjie wat harte gaan verower. Haar splinternuwe enkelsnit, “Lui Voete”, is nou beskikbaar en beloof om mense op die dansvloer te kry – ongeag hoe perfek hul danspassies is!
Die liedjie is ’n samewerking tussen Tamlyn en Emil Paul, en saam met Murray Lubbe het hulle die perfekte balans gevind om hierdie snit tot lewe te bring. Maar volgens Tamlyn het “Lui Voete” ’n spesiale betekenis vir haar.
LEES OOK: Tamlyn Wessels oorwin siekte, stel nuwe musiek bekend
“Ek wou al lankal ’n liedjie skryf oor my gebrek, maar op ’n positiewe manier,” verduidelik Tamlyn. “Baie keer vra mense my of ek kan sokkie? Ja, natuurlik kan ek! Maar dit is nie perfek nie, want my enkels werk nie soos ander s’n nie – hulle is ‘lui’,” sê sy met ’n lag.
Toe sy en Emil Paul aan die liedjie begin werk, het hulle besluit om ’n boodskap van aanvaarding en selfvertroue in te weef. “Daar is soveel mense wat vir verskeie redes nie perfek kan dans nie, maar wat steeds dans en hulself geniet. In die liedjie sê ek: ‘Laat my lui voete jou lei’, want ek wil my dansmaat aanmoedig om saam met my te dans – niks gaan my terughou nie.”
Hierdie snit is gemaak vir vasdans en vir almal wat glo dat musiek en dans iets is wat jy met jou hele hart beleef, maak nie saak hoe jou voete beweeg nie. Tamlyn se boodskap is duidelik: Leef voluit, sing, dans en geniet elke oomblik – selfs met lui voete!
Maak seker jy luister na “Lui Voete” en laat jou eie voete sommer dadelik begin beweeg!