In sy eie opinie, is Johan Eloff, net ’n “Average Joe” wat sy talente op ’n gevorderde ouderdom ontgin het en iets besonders daarmee wou doen. Nou leef hy sy talent vir skryf, dig en sing uit, deur lirieke te skryf en liedjies te maak met behulp van sy musiek vervaardigers Johan Kelber en Calvin Botha, wat vir hom die musiek vervaardig, afrond, opneem en produseer.
Johan Eloff se musiek reis het begin net voor die eerste Covid 19 inperking in 2020, toe hy met aansporing van sy vrou Lynelle, die stap geneem het om sy geskrewe werke in musiek te omskep.
Johan is terug met n splinternuwe enkelsnit getiteld, DJ Vellies, wat handel oor ’n spesifieke persoon met dieselfde naam. Die snit handel oor ’n kleurvolle radio persoonlikheid wat dikwels ’n humoristiese manier het om iets te verwoord en oor te vertel. Verder het hy dikwels ’n pittige sê-ding wat almal kan laat skaterlag. Johan meen dat al is hierdie snit oor iemand spesifiek, voel hy baie kan daarmee vereenselwig, omrede almal so ’n persoon ken. Verder is die lied ook in ’n dans styl vervaardig wat ironies genoeg ’n goeie keuse is, omrede DJ Vellies grootendeels dansmusiek op sy radioprogram speel.
Die lied is ’n treffer uit Johan se eie pen, alhoewel hy nie oorspronklik sy eie musiek sou sing nie. Sy vrou se aansporing en motivering het hom egter laat besluit om sy eie musiek te sing. Johan het ’n unieke skryfproses – as iets of iemand hom inspireer begin sy kreatiewe proses en maak hy vining ’n paar notas op sy selfoon, voor dit vergete gaan. Die kunstenaar meen, “As ek eers begin skryf hou ek nie op tot ek ’n lied voltooi het nie!” DJ vellies is sy ses-en-twintigste oorspronklike lied, en hy is baie trots op die finale produk.
DJ Vellies is deur Calvin Botha, of DJ Darkness, soos hy bekendstaan, vervaardig. Johan meen, “Ons het so lekker saam gewerk aan vorige projekte dat ons besluit het om nog musiek saam te maak. Hulle werk ook tans saam aan opkomende projekte in die dans genre.
Johan het al menigde hoogtepunte in sy loopbaan beleef, maar verklaar dat die sentimentele gedig wat hy vir ’n jong moeder geskryf en getoonset het as troos na haar miskraam sal hom verewig by bly. Die lied was getiteld, Op die Speelgrond van die Hemel, en hy glo dat daar baie vrouens is wat daarby kan aanklank vind. Nog ’n lied van hom wat net so spesiaal is, is een genaamd Mamma wat handel oor dit wat jy wens jy vir jou Moeder kan sê voor sy haar laaste asem uitblaas.
Johan is van mening dat dit nie belangrik is dat ’n liedjie noodwendig ’n kommersiële sukses is nie, maar eerder dat dit mense se harte roer.
Oor sy toekoms planne meen Johan, “Ek beplan wel om voort te bou op my portfolio van liedere en uiting te gee aan my talent. Ek kan net hoop dat my gehoor dit geniet.” Johan werk tans saam met Calvin Botha aan twee nuwe dans liedjies wat hopelik later in die jaar vrygestel sal word.
Johan se musiek word geinspireer deur jong kunstenaars soos Eloff en ook die sensasionele Droomsindroom, wie die seuns is van sy skool vriende. Hy het selfs al ’n lied getiteld DroomSindroom geskryf weens die inspirasie wat hy van die twee ontvang het. Dit sal vir hom ’n groot eer wees oom eendag saam met die twee jong manne te werk.
Johan Eloff gaan nog baie voete laat dans met sy vars klank en dans musiek. Sy positiewe aanslag en lewenslus is duidelik te hoor in sy musiek. Met sy bariton stem en die lied se lekker ritme, beloof sy nuutste enkelsnit, DJ Vellies om ’n groot sukses te wees.