Dian Roux keer terug met ’n aangrypende nuwe enkelsnit, “Groet” – ’n rou en eerlike afskeidslied oor daardie pynlike oomblik wanneer liefde alleen nie meer genoeg is om twee mense bymekaar te hou nie.
Met lirieke wat diep sny en ’n produksie wat elke emosie versterk, neem “Groet” luisteraars na die stil plek ná ’n verhouding se breekpunt: ’n koue woonstel vol herinneringe, reën teen die venster, die behoefte om iemand te bel en uiteindelik die besef dat groet soms die enigste manier is om jouself te red.
Die liedjie het vir Dian ontstaan uit ’n doodgewone oomblik wat skielik iets baie persoonlik geword het.
“Hierdie lied het begin in my ou werk se kantoor waar ek een oggend gedink het aan hoe jy een oomblik iemand se held is en die volgende oomblik moet jy hulle groet om jouself en jou toekoms te beskerm,” vertel hy.
“Groet” ondersoek voortdurend die spanning tussen bly en wegstap, troos en loslaat, liefde en selfbehoud. Een van die kernvrae in die lied, “Was ons net geleen?”, som dié onsekerheid perfek op.
“Binne die konteks van die lied beteken dit daai wonder van of hierdie twee mense eintlik net mekaar ontmoet het om ’n les te leer en die regte een wag nog daar buite,” verduidelik Dian.
Die lied se emosionele trefkrag lê juis in die klein, alledaagse besonderhede. Hare op ’n kussing, klere wat steeds in ’n kas hang en ’n woonstel wat skielik koud voel, word simbole van ’n verhouding wat eens ’n veilige plek was.
“Ek probeer altyd my oë oophou vir klein goed wat mense eintlik nie besef ’n impak op hulle het nie,” sê hy. “Daar’s altyd ’n oomblik wat iemand iets klein sien of hoor wat hulle direk aan ’n sekere oomblik laat dink.”
Dian skram ook nie weg van die donkerder kant van hartseer nie. Met die rou reël “Ek’s alweer dronk, dit raak ’n gewoonte” kies hy om die emosie eerlik uit te beeld eerder as om die pyn mooier te probeer maak.
“Ek skryf altyd oor die regte dinge wat deur my kop gaan en in my hart is, want ek’s ’n mens,” vertel hy. “Ander mense gaan hierdie liedjie luister en direk kan sê hulle verstaan daai gevoel. As ek oor vals emosie skryf, sou niemand regtig kon voel wat in my musiek aangaan nie.”
Hoewel “Groet” elemente van ’n liefdeslied bevat, sien Dian dit eerder as ’n afskeidslied – die verhaal van iemand wat steeds omgee en steeds wil troos, maar diep binne weet dat totsiens dalk die regte besluit is.
“Dis meer ’n afskeidslied,” sê hy. “Maar dis ook iemand wat in die oomblik lewe waar hy wonder of hy by sy besluit moet staan om totsiens te sê, wat beteken hy red homself, of of hy moet probeer om die ander persoon se hart eers te troos.”
Die frase “vanaand sal jy jou held moet groet” vorm een van die lied se kragtigste oomblikke. Die “held” is nie iemand wat sonder gevoel wegstap nie, maar eerder iemand wat ’n moeilike besluit neem om homself en sy eie toekoms te beskerm.
“Die held verteenwoordig die persoon wat die verhouding beëindig, in hierdie geval ek,” verduidelik Dian. “Net om hulself en hul eie drome te beskerm en weer vrede te vind in wie hulle werklik is.”
Musikaal is “Groet” doelbewus opgebou om dié emosionele intensiteit te ondersteun. Dian en sy vervaardiger, Francois, het daarop gefokus om soveel moontlik regte instrumente, groter klanke en vokale lae in die produksie te gebruik.
“Ek het probeer dat ons soveel regte instrumente in die produksie gebruik as moontlik, maar om ook groter klanke en meer stemme in te bring,” sê hy. “Dit laat die emosie van die woorde net bietjie meer uitstaan en tref.”
Ironies genoeg was een van Dian se mees emosionele liedjies ook een van die vinnigstes wat hy nog geskryf het. Die storie en gevoel was reeds daar – dit moes bloot neergepen word.
“Dit was een van my vinnigste liedjies nog,” vertel hy. “Die liedjie was klaar in my kop, ek moes hom net uitkry. Ek dink ek het 45 minute geskryf een oggend voor werk en dis wat daaruit gekom het.”
Met “Groet” probeer Dian Roux nie wegkyk van hartseer nie. Hy maak eerder ruimte daarvoor en gee luisteraars toestemming om die emosie te voel.
Dit is ’n lied vir enigiemand wat al moes besluit om iets – of iemand – te groet, nie omdat die liefde nooit daar was nie, maar omdat vrede, groei en selfbehoud soms belangriker word as om aan iets vas te hou wat nie meer werk nie.
“Ek hoop mense kan die liedjie luister en net voel wat hulle in die oomblik moet,” sluit Dian af. “As hulle wil huil, doen dit tot die hartseer weg is.”
Dian beskryf “Groet” as “van begin tot einde ’n emosionele rollercoaster” – en dit is presies wat die lied bied: ’n eerlike reis deur liefde, verlies, twyfel en uiteindelik die moed om te groet.
