Vars van die multi-platinum-sukses van hul gewilde treffer “Boerepompie”, span Snotkop en Ricus Nel weer kragte saam vir ’n splinternuwe enkelsnit wat beloof om Suid-Afrikaners regoor die land aan die sing én lag te kry.
“Koelboks Koning” word op 4 September uitgereik en gaan gepaard met ’n skreeusnaakse musiekvideo vol goeie Suid-Afrikaanse humor, vriendskap en ’n gesonde dosis kompetisie.
Die duo het onlangs ’n groot loopbaanmylpaal gevier toe “Boerepompie” amptelik multi-platinum-status behaal het. Jare ná die liedjie se oorspronklike vrystelling bly dit ’n gunsteling by feeste, braaie, partytjies en vertonings. Die sukses daarvan bevestig die besondere musikale chemie tussen dié twee geliefde kunstenaars.
Nou skryf hulle die volgende hoofstuk van dié suksesverhaal met “Koelboks Koning” – ’n pretbelaaide lekkerluistertreffer met ’n aansteeklike ritme, ’n sterk saamsingrefrein en ’n eg Suid-Afrikaanse kuieratmosfeer.
Die musiekvideo volg Ricus en sy vrou, gespeel deur Christel van den Bergh, wat met hul betroubare karavaan vir ’n ontspanne kampnaweek opdaag. Kort daarna maak Snotkop sy verskyning in ’n spoggerige sportnutsvoertuig – en dit is nie lank voordat ’n vriendelike naweek in ’n skreeusnaakse kompetisie verander nie.
Die groot vraag is eenvoudig: Wie besit die beste koelboks, en wie verdien werklik die titel van “Koelboks Koning”?
Namate die uitdaging vorder, raak die inhoud van die koelbokse al hoe meer absurd. Van kitare, gholfstokke en biltong tot cocktails, ’n lewendige hoender en omtrent enigiets denkbaar word uitgepak. Elke nuwe verrassing verhoog die spanning én die humor, met oordrewe situasies wat gehore van die begin tot die einde sal laat skaterlag.
“Koelboks Koning” bevat alles wat aanhangers van Snotkop en Ricus Nel verwag: hope energie, tong-in-die-kies-humor en ’n refrein wat reeds ná die eerste luisterbeurt in jou kop vassteek.
Of dit nou tydens die oggend se skoolrit, om ’n naweekbraai, op die sokkievloer of gedurende ’n lang padreis saam met familie en vriende gespeel word, dié liedjie is gemaak om enige geleentheid in ’n behoorlike kuier te verander.
