Vir JACOBUS het sy musiekloopbaan begin met die liedjie wat uiteindelik tot ’n besonderse samewerking sou lei. Nadat hy ’n weergawe van Demi Lee Moore se wenliedjie uit die eerste seisoen van Die Kontrak, “Mis Eet Slaap Herhaal”, opgeneem het, het hy die aandag van Coleske Artists gevang – en dié oomblik het uiteindelik tot ’n platekontrak gelei.
Nou staan JACOBUS en Demi Lee Moore langs mekaar as ’n duet op hul splinternuwe enkelsnit, “Probeer”, wat pas uitgereik is. Vir dié jong sanger en liedjieskrywer voel dit soos ’n “volronde oomblik” in sy loopbaan.
“Dit het gevoel soos ’n droom toe Demi Lee sê sy wil saam met my die liedjie sing. My loopbaan het begin met ’n weergawe van haar ‘Mis Eet Slaap Herhaal’, so dit is regtig ’n full circle moment,” sê JACOBUS.
“Probeer” is deur JACOBUS self geskryf en is ’n emosionele hartsliedjie wat luisteraars die geleentheid bied om hulself in die storie te verloor.
“Ek wou graag ’n hartsliedjie skryf wat mense kan geniet wanneer hulle ’n meer emosionele ervaring wil hê. Die liedjie het my dieselfde gevoel as ‘Mis Eet Slaap Herhaal’ gegee, en ek kon nie die geleentheid misloop om haar te vra nie.”
Die samewerking met Demi Lee was vir JACOBUS nie net ’n besonderse loopbaanoomblik nie, maar ook ’n waardevolle ervaring.
“Dis so lekker om te sien hoe ander mense in die bedryf die proses benader, en sy is regtig net ’n plesier om mee te werk.”
Die musiekvideo vir “Probeer” is laat in Pretoria verfilm deur Eric T Graham en Tehan Buys van ETG Creative. ’n Klassieke Mercedes-Benz vorm deel van die visuele verhaal en rond die video af.
Volgens JACOBUS vertel die musiekvideo dieselfde storie vanuit twee verskillende perspektiewe. “Die musiekvideo wys dieselfde kant van ’n storie uit twee verskillende perspektiewe. Dit vertel die storie van die liedjie deur goeie beligting en verbeelding.”
Die verfilming was volgens hom ’n besonderse ervaring – selfs al het Pretoria se winterkoue dit nie maklik gemaak nie. “Dit was ’n great ervaring, baie koud, maar baie lekker. Die span was so nice en het presies geweet wat hulle soek, wat dit baie maklik en lekker gemaak het.”
Vir JACOBUS hoop hy die liedjie en video sal ’n plek vind by mense wat soms net ’n oomblik nodig het om asem te haal, te ontspan en hul eie emosies te verwerk.
Kyk die musiekvideo hier:
“Ek hoop mense geniet die storie. Dis een waarna mens kan luister as jy bietjie wil chill en ontspan. As daar mense is wat hulself daarmee vereenselwig, kan dit ’n goeie uitlaat wees,” sluit JACOBUS af.
