Die opkomende Afrikaanse sanger, liedjieskrywer, digter en kunstenaar Rikus van der Vlies stel sy jongste enkelsnit, “Steeds In My”, bekend – ’n diep persoonlike lied wat die universele temas van verlange, nostalgie, verlies en hoop ondersoek.
Geïnspireer deur die bekende woorde van die Afrikaanse digter Eugène Marais – “’n druppel gal is in die soetste wyn; ’n traan op elk’ vrolik’ snaar” – het dié liedjie sy oorsprong gevind in die emosionele spanning tussen die mooi herinneringe wat ons koester en die seer wat dikwels daarmee saamleef.
“Steeds In My” is volgens Rikus ’n eerlike refleksie van die menslike ervaring. Dit handel oor daardie oomblikke wanneer ’n gunsteling liedjie skielik ’n knop in jou keel bring, wanneer ’n bekende plek herinneringe wakker maak, of wanneer die afwesigheid van iemand wat eens deel van jou lewe was, steeds voelbaar bly.
“Daar is ’n deel in my wat veg om die lewe deur meer eenvoud te sien,” verduidelik hy. “Maar op hierdie mooi reis kry mens letsels en word mens geskaaf. Hierdie liedjie is ’n innerlike stryd om die verlede te begrawe, sonder om die waarde van die herinneringe te verloor.”
Vir Rikus lê die krag van die liedjie daarin dat dit nie probeer wegvlug van pyn nie, maar eerder erken dat seer en mooi dikwels hand aan hand stap. Hy glo dat mense nie hul verlange moet ontken nie, maar eerder moet leer om dit te aanvaar as deel van hul reis.
“Mens moet nooit dat die seer die oorhand kry nie,” sê hy. “Wanneer jy die bitter en die blou kan omhels, begin jy verstaan dat elke tree en elke traan deel is van ’n groter verhaal. Dit is oukei om soms te verlang, maar ons moet nooit ophou veg vir die lig nie.”
Die kunswerk vir “Steeds In My” dra dieselfde eerlikheid en simboliek as die liedjie self. Die omslag is nie ’n foto nie, maar ’n oorspronklike olieverfskildery wat Rikus self geskep het.
Die skildery beeld ’n karavaan uit waarin hy ná ’n vertoning in Aliwal Noord oornag het. Vir hom simboliseer die karavaan eenvoud, die soeke na ’n ligter manier van leef en die bereidheid om die bagasie van die verlede neer te sit.

Met sy kenmerkende humorsin vertel hy dat die inspirasie vir die kunswerk ontstaan het tydens ’n denkbeeldige gesprek met die Nederlandse meesterkunstenaar Vincent van Gogh.
“Van Gogh wou nie in die karavaan slaap nie; hy het die steenhuisie langsaan verkies,” skerts hy.
Tog lê daar ’n ernstige boodskap onder die humor. Volgens Rikus moet mense streef na ’n meer kinderlike uitkyk op die lewe – een waarin eenvoud, verwondering en liefde steeds sentraal staan.
As kunstenaar glo Rikus vas dat musiek en kuns hul grootste waarde vind wanneer dit uit eerlikheid geskep word.
Hy haal die invloed van Danie du Toit aan, wat hom aangemoedig het om altyd iets eerliks te skryf, al is dit net een sin.
“Ek glo mense vind aanklank by mekaar in die wete dat selfs in seer is ons nie alleen nie,” sê hy. “Daarom voel dit vir my belangrik om eg te bly.”
In ’n tyd waar kunsmatigheid dikwels die norm geword het, verkies hy om sy fokus te plaas op betekenisvolle skepping eerder as kommersiële sukses.
“Al wat ek kan doen is om tot die beste van my vermoë te skep en eg te bly. Iets wat eg is se leeftyd is gewoonlik blywend, en dit is my wens.”
Op net 23-jarige ouderdom het Rikus reeds ’n indrukwekkende kreatiewe reis agter die rug. Dié Bloemfonteinse kunstenaar het grootgeword in ’n pastorie waar beide sy ouers pastore was – ’n omgewing wat sy soeke na betekenis, waarheid en liefde diep beïnvloed het.
Sy liefde vir taal en stories het vroeg begin, maar dit was die werke van skrywers soos Eugène Marais, Breyten Breytenbach, N.P. van Wyk Louw en Ingrid Jonker wat sy kreatiewe stem help vorm het.
Musikaal put hy inspirasie uit legendes soos Anton Goosen, Kris Kristofferson, Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis, Valiant Swart, Bob Dylan, Bruce Springsteen, Paolo Nutini en veral Jan Blohm, wat hy as sy grootste musikale invloed beskryf.
In 2020 was hy mede-stigter van die groep Herleef, waarna hy in 2025 sy debuutdigbundel, Gebroke Psalms, bekendgestel het. Nou volg die volgende hoofstuk van sy kreatiewe reis met sy solo-loopbaan.
Met “Steeds In My” bewys Rikus van der Vlies dat hy nie bang is om kwesbaar te wees nie. Dit is ’n liedjie wat die blou oomblikke van die lewe erken, maar terselfdertyd herinner dat hoop, liefde en lig altyd die laaste woord het.
Soos die kunstenaar self dit stel: “Die realiteit is dat die lig altyd wen. Liefde, hoop en eerlikheid sal uiteindelik altyd bo uit kom.”
“Steeds In My” is ’n herinnering dat ons almal iets saam dra – maar ook dat ons die vermoë het om langs die pad van daardie gewig neer te sit en ligter vorentoe te beweeg.
