Die gewilde Afrikaanse sanger Bobby van Jaarsveld is terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat luisteraars gaan laat glimlag, saam sing én dalk selfs ’n bietjie anders laat dink oor liefde en aantrekkingskrag. Sy nuwe liedjie, “My Tipe”, breek weg van oppervlakkige standaarde en herinner mense daaraan dat persoonlikheid en ’n goeie hart steeds die belangrikste is.
In ’n wêreld waar filters, selfies en valse prentjies dikwels die norm geword het, bring “My Tipe” ’n ligte, eerlike en prettige boodskap. Volgens Bobby het dié liedjie ontstaan uit ’n eenvoudige vraag wat hom laat besef het dat hy nog nooit regtig ’n spesifieke “tipe” gehad het nie.
“Ons ken die sêding al lank – dit gaan nie oor hoe jy lyk nie, maar wat binne jou aangaan. Maar kom ons wees eerlik… ons almal waardeer ’n mooi gesiggie, maar ons waardeer baie meer ’n mooier hart en ’n lekker mens,” vertel Bobby.
Met lirieke wat beklemtoon dat liefde nie beperk word deur haarkleur, liggaamstipe of voorkoms nie, dra die liedjie ’n universele boodskap oor aanvaarding en egtheid.
“Ek gee nie om nie – rooikop, blond of brunette, maer of vet – solank jy persoonlikheid het, is jy mý tipe! Wees net ’n lekker mens,” sê hy.
“My Tipe” is ’n opgewekte, energieke liedjie met ’n lekker sokkiegevoel. Bobby beklemtoon dat dit nie ’n liedjie is wat oordink moet word nie, maar eerder een wat eenvoudig geniet moet word.
Die inspirasie vir die liedjie het gekom tydens ’n gesprek op stel met ’n aktrise wat hom gevra het wat sy “tipe” is.
“Toe kon ek haar nie antwoord nie, want toe besef ek dat ek nog nooit ’n tipe gehad het nie… al wat ek soek, is ’n lekker mens. Dis genoeg vir my,” sluit Bobby af.
Met sy eerlike boodskap, aansteeklike ritme en Bobby se kenmerkende sjarme, beloof “My Tipe” om vinnig ’n gunsteling op speellyste en op dansbane regoor die land te word.
