Opkomende Afrikaanse popster Tamlyn Wessels slaan ’n nuwe, persoonlike hoofstuk oop met die vrystelling van haar splinternuwe EP, Dis Nie So Diep Nie, wat vanaf 8 Mei op alle digitale platforms beskikbaar is.
Na die sukses van haar gewilde enkelsnitte “Klein Bietjie” en “Mooier As Mens”, bewys Tamlyn dat sy ’n vars en opwindende stem in Afrikaanse popmusiek is. Met haar moderne klank, eerlike lirieke en aansteeklike melodieë, bou sy voort op die momentum wat sy reeds die afgelope jaar geskep het.
Aanhangers het reeds ’n voorsmakie van die EP gekry met die voorafvrystellings van “Ek Slaap In Jou Hoodie” en “Plan B” – liedjies wat vinnig aanklank gevind het by jong luisteraars wat hulself in Tamlyn se stories herken.
Dis Nie So Diep Nie bestaan uit ’n versameling opregte liedjies oor liefde, selfwaarde, groei en hoop. Elke snit dra ’n gevoel van eerlikheid en ligtheid, terwyl die radio-vriendelike produksie en warm popklank die EP toeganklik en vars hou.
Met die vrystelling van die EP stel Tamlyn ook die titelsnit “Nie So Diep Nie” bekend, saam met ’n emosionele musiekvideo wat haar persoonlike verhaal rondom Guillain-Barré-sindroom vertel. Die video bevat werklike beeldmateriaal uit haar tyd in die hospitaal tydens haar jonger jare en gee kykers ’n rou, eerlike blik op haar reis van uitdaging, herstel en deursettingsvermoë.
Die kombinasie van kwesbaarheid en hoop maak hierdie projek meer as net ’n musiekvrystelling – dit is ’n viering van groei, perspektief en die krag om steeds lig te vind in moeilike tye.
Met Dis Nie So Diep Nie bevestig Tamlyn Wessels haar plek as een van die mees belowende nuwe name in Afrikaanse popmusiek.
