Die geliefde Suid-Afrikaanse sangeres Andriette is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, “Uyenze (Doen Dit)” – ’n energieke en opbouende liedjie wat luisteraars aanmoedig om hul drome te leef, kanse te vat en weer in hulself te glo.
Dié liedjie, geskryf deur Rudi Claase, kombineer ’n moderne popklank met ’n unieke Afrika-gevoel en dra ’n kragtige boodskap van hoop, selfgeloof en samehorigheid. Vir Andriette is die inspirasie agter die liedjie diep persoonlik en spruit dit uit haar eie reis in die musiekbedryf.
“Van my Idols-dae af het Randall altyd gesê daar is ’n bietjie ‘African’ in my, en met Uyenze bring ons dit na vore,” vertel sy. “Ek is trots Afrikaans, maar ek glo ook musiek kan oor grense en tale beweeg.”
Sy beskryf haar eerste ontmoeting met die liedjie as ’n onmiddellike konneksie. “Ek was mal daaroor. Dit is die tipe liedjie wat jou sommer net goed laat voel,” sê sy.
Die woord “Uyenze”, wat “Doen dit” beteken, vorm die kern van die liedjie se boodskap. Andriette hoop dat luisteraars geïnspireer sal word om nie toe te laat dat vrees of ander mense hul drome steel nie. “Ek wil hê mense moet voel: Jy kan. Ons almal is hier met ’n doel, en ek hoop hierdie liedjie motiveer mense om weer in hulself te glo,” verduidelik sy.
Die samewerking met Claase het op ’n eerlike en doelgerigte manier ontstaan. “Hy het my gevra om presies te sê wat op my hart lê. Ek het gesê ek soek ’n Afrikaanse motiverende liedjie wat oor rassegrense kan strek – iets waar iemand wat Xhosa praat ook saam kan sing.”
Die enkelsnit is opgeneem saam met Dirk van Niekerk, en volgens Andriette was die proses besonders. “Dirk weet presies wat hy doen, en hierdie liedjie pas baie lekker by my stem.”
“Uyenze (Doen Dit)” bring ook ’n vars klank na haar repertoire. Waar haar musiek tradisioneel meer kontemporêr is, skuif hierdie vrystelling na ’n meer energieke popklank – met die doel om gehore saam te laat sing. “Dis daai tipe liedjie wat jou laat saam sing – al is jy ’n introvert,” lag sy.
Sy sien reeds hoe gehore die koor uit volle bors saam sing: “UYENZE, WAAR’S AL DIE MENSE? WAAR’S AL DIE VOETE?” En haar droom? “Om by ’n fees uit te stap en almal sing Uyenze kliphard saam met my.”
Die musiekvideo sal dieselfde energie en trots weerspieël. Andriette beskryf ’n visuele wêreld waar mense van alle agtergronde saam dans en sing – met ligte, rook en selfs vuurwerke – ’n viering van eenheid en Suid-Afrikaanse trots.
Sy hoop die liedjie sal aanklank vind by jong dromers sowel as mense wat dalk oor tyd hul moed verloor het. “My gunsteling lyn sê alles: ‘Leef jou drome en weet dat jy kan.’”
“Uyenze (Doen Dit)” is die eerste voorsmakie van nog nuwe musiek wat op pad is, met nog twee liedjies reeds in die pyplyn.
“Ek is lus om die land plat te sing,” sê sy met ’n glimlag.
“Uyenze (Doen Dit)” is nou beskikbaar op alle digitale platforms – en bring ’n broodnodige boodskap: Doen dit. Leef jou drome.
