Die rebelse stem van die Afrikaanse pop-rock-toneel, Lan3, is terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat geen doekies omdraai nie. Haar jongste vrystelling, “Middelvinger”, is ’n dapper verklaring van selfvertroue en ’n onmiskenbare boodskap aan kritici: Lan3 worry nie.
In ’n wêreld waar sosiale media en ander se opinies maklik die oorhand kry, bring Lan3 ’n vars briesie van eerlikheid. Met lirieke soos “Ek kan nie worry oor wat jy van my dink nie” en “Dis beter in my skoene ek belowe,” herinner sy luisteraars dat niemand anders se oordeel jou waarde bepaal nie.
Die lied dien as ’n anthem vir enigiemand wat al ooit afgekraak of agteraf bespreek is. Vir dié wat al gehoor het hulle is nie goed genoeg nie, of dat hul drome te groot is, het Lan3 net een antwoord: ’n middelvinger – simbolies van selfrespek en onafhanklikheid.
“Ek het lank terug geleer, ek is die een in beheer van myself. Wat ek doen, wat ek dink, wat ek sê – ek besluit wat ek uit hierdie lewe wil hê,” vertel sy eerlik.
Lan3 het reeds naam gemaak met haar unieke klank en vreeslose benadering tot lirieke. Sy bou voort op die momentum van vorige treffers soos Namibië, Vir Nou en Twee Gebede – liedjies wat haar gevestig het as ’n kunstenaar wat nie bang is om die status quo uit te daag nie.
Kyk die liriekvideo hier:
Met “Middelvinger” wys sy ’n meer volwasse kant, maar bly steeds getrou aan haar wortels: rou, eerlik, ritmies en ongelooflik aansteeklik. Dis ’n lied wat nie net luister nie – dit sê iets. En dit sê dit hard.
