Die ikoniese Suid-Afrikaanse sanger, liedjieskrywer en aanbieder, Martin Bester, is terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat beslis die dansvloere en braaivure regoor die land gaan laat gons. Dié nuwe liedjie, getiteld “Brannewyn”, is ’n energieke kuierliedjie in ware Afrikaanse-Ierse “drinking song”-styl – en dié keer bring Martin ’n bekende kreatiewe bondgenoot saam: Peer Papsak, oftewel Pierre Rossouw.
Hoewel Martin en Pierre al jare lank saamwerk agter die skerms – met Pierre as die pen agter treffers soos “Lilly”, “Disco Damage” en “Bietjie Asseblief” – is “Brannewyn” hul eerste amptelike samewerking op ’n snit waarop hulle saam sing. Pierre is die skrywer van die liedjie en die twee het besluit dit is tyd om die kuierpret na ’n volgende vlak te neem.
“Ons wou ’n lekker kuier liedjie uitreik en iets wat net anders klink,” sê Martin. “Dit gaan oor ’n ou bekende onderwerp – ja, dis nou brannewyn – maar daar’s ook ander tipes drank in die liedjie. Dis alles deel van die atmosfeer.”
Die liedjie bring ’n vars klank na Martin se repertoire – iets wat, volgens hom, perfek sal werk op die verhoog:
“Hierdie is beslis ’n liedjie wat op my vertonings baie goed gaan werk. Dit is my tyd om so iets op te neem, en dit was ’n fees om saam met Pierre daaraan te werk.”
Hy glo ook die tydsberekening vir so ’n vrolike snit is ideaal:
“Ek dink ons is reg vir ’n ligter luim. Die wêreld is in ’n moeilike tyd – die ekonomie druk – maar een ding van Suid-Afrikaners is dat ons altyd tyd vind vir kuier. Veral nou dat daar soveel langnaweke op pad is.”
“Brannewyn” is nie net ’n viering van die Afrikaanse kuierkultuur nie, maar ook van kreatiewe vriendskap en samewerking. En die feestelikheid hou nie daar op nie – ’n musiekvideo is in die pyplyn, en volgens Martin word daar gekyk na opsies soos feeste, kroeë of selfs ’n Ierse-styl kroeg om die perfekte kuieratmosfeer vas te vang.
Met ’n indrukwekkende loopbaan wat strek van TV-aanbieding (onder meer Wie’s My Liefie, Tweestryd en DKNT), tot rolprente (Pretville, Vrou Soek Boer, Sonskyn Beperk), en musiek wat hom van SAMA-genominasies tot internasionale verhoogoptredes gevat het, is Martin Bester steeds ’n krag in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf.