Van die lepel na die mond, val die pap op die grond. Maar in Fatman en Bibi se geval… “reën dit pap”!
Die dinamiese duo Fatman en Bibi het die musiekbedryf verras met hul komiese duet, “Papreën.” Dié liedjie vertel die storie van ouers wat smag na ’n welverdiende wegbreek, al is hulle platsak. Soos te verwagte, loop dinge nie volgens plan nie, en die reis is gevul met humoristiese kinkels.
“Hulle wil net wegbreek, en hulle glo hulle verdien dit,” verduidelik Bibi. Haar en Fatman se paaie het by ’n optrede in Phalaborwa gekruis, en sy het dadelik geweet dat hulle iets saam moes doen. Fatman voeg by dat dit natuurlik gehelp het dat hulle albei by dieselfde platemaatskappy is.
Die vrystellingsdatum van “Papreën” is ook strategies gekies. “Ons het gedink om iets in Februarie, die maand van liefde, te doen. Maar toe kom ons op die papreën-konsep en besef dat ouers juis in Januarie, wanneer die kinders terug skool toe is, ’n breek nodig het,” verduidelik Bibi verder.
Saam met die liedjie is ’n skreeusnaakse musiekvideo uitgereik, met tonele verfilm by Ubunye Game Lodge net buite Pretoria. In die video word die kinders by ouma en oupa afgelaai sodat ma en pa hul welverdiende rus kan geniet. Maar, soos altyd, is niks so eenvoudig soos dit lyk nie, en humoristiese situasies sorg vir heerlike vermaak.
Kyk die musiekvideo hier:
Fatman het veral bekendheid verwerf deur sy deelname aan The Voice Suid-Afrika, en sy treffers soos “Boom Baby,” “Dorp Toe,” en “Vuil Coke” het hom ’n huishoudelike naam gemaak.
Bibi is bekend vir haar geliefde karakter, Tannie Martha, wat gereeld by Afrikaans is Groot te sien was. Einde 2023 het sy haar enkelsnit “Daai Girl” vrygestel, wat in 2024 benoem is vir ’n Aitsa-toekenning.
Met “Papreën” bewys Fatman en Bibi weereens dat musiek nie net oor melodie gaan nie, maar ook oor stories en humor. Hierdie liedjie is ’n moet-luister vir enige ouer wat al ooit gevoel het dat hulle ’n blaaskans nodig het!