Die immergewilde Krone-konsert maak vanjaar weer sy opwagting op Loftus Versfeld in Pretoria en beloof om groter en beter te wees as ooit tevore. Op 30 Augustus 2025 sal van Suid-Afrika se gunsteling musieksterre die verhoog aandurf vir ’n onvergeetlike aand van musiek, samehorigheid, en natuurlik, saamsing.
Hierdie unieke konsertformaat, wat as ’n 360-grade-ervaring aangebied word, laat die gehoor deel voel van die aksie. Met lirieke wat op grootskerms vertoon word, kan almal in die stadion saam karaoke met hul gunsteling kunstenaars – ’n konsep wat Krone reeds oor die jare so gewild gemaak het.
Die kunstenaars vir 2025 is sopas aangekondig, en dit sluit van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf in. Bekende Krone-kunstenaars soos Kurt Darren, Juanita du Plessis, Snotkop, en Liezel Pieters sal weer hul stemme laat hoor.
Hulle word aangevul deur talentvolle sterre soos Barto, Leah, Bernice West, Irene-Louise van Wyk, Refentse, Brendan Peyper, en Eloff, wat almal reeds voorheen op die Krone-verhoog gesorg het vir skittervertonings.
Vanjaar bring ook vars talent na die verhoog: Danny Smoke, Tamlyn Wessels, Die Piesangskille, Zaan Sonnekus, en die duo ONS sal vir die heel eerste keer deel wees van die Krone-ervaring. Hierdie kombinasie van gevestigde kunstenaars en nuwe sterre waarborg ’n veelsydige program wat elke aanhanger sal bekoor. Daar word egter nog ’n hele paar verrassings later vanjaar aangekondig.
Krone by Loftus 2025 word met trots aangebied deur Select Musiek, ’n afdeling van Sony Musiek, in samewerking met kykNET en Lift. Dit is ’n samewerking wat keer op keer die standaard vir konserte verhoog en ’n professionele, kwaliteit ervaring verseker.
Kaartjies vir hierdie musiekaand van formaat is vanaf 28 Januarie 2025 om 10:00 eksklusief op iTickets beskikbaar. Indien jy op die Krone Fans-WhatsApp kanaal is sal jy reeds op 27 Januarie 2025 om 10:00 kaartjies kan koop.
Vir diegene wat nie kan wag om die opgewondenheid te beleef nie, is die Krone by Loftus 2024-konsert reeds aanlyn beskikbaar om te kyk. Die konsertalbum kan ook op alle groot stroomdienste geluister word.
Maak gereed om jou stem warm te sing en deel te wees van een van die grootste musiekgeleenthede van die jaar. Loftus gaan skud, en jy wil beslis deel wees van die aksie!