Ná ’n suksesvolle eerste en tweede seisoen van die gewilde Coleske-sangkompetisie, Die Kontrak, is dié werklikheidsreeks terug vir ’n derde keer met ’n nuwe mentor en twee nuwe kenners.
Een aspirante musikant staan die kans om sy of haar hele lewe te verander met ’n Coleske-platekontrak ter waarde van een miljoen rand en ’n plek op die Afrikaans is Groot-verhoog.
Inskrywings vir die derde seisoen is nóú oop en nes met die vorige twee seisoene moet deelnemers hul inskrywingsvideos op Facebook, TikTok en Instagram laai met die hutsmerk #DieKontrak3. Jy moet ook jou gekose mentor in jou video tag. Vanjaar gaan Demi Lee Moore, die wenner van seisoen een, die leisels by Karlien van Jaarsveld as mentor oorneem. Sy sluit aan by Tarryn Lamb, Refentse en Monique Steyn.
Barry Pretorius, die regisseur van Afrikaans is Groot, neem weer sy stoel in as kenner terwyl Karlien van Jaarsveld haar hoed van mentor na kenner verruil. Emo Adams sluit by die twee aan op die paneel.
Die Kontrak 3 sal weer deur Bobby van Jaarsveld en Pulane Sekepe-Nel aangebied word.
Skryf só in…
1. Neem ’n video waar jy jou gunsteling-liedjie sing en laai dit op jou Facebook, Instagram of TikTok. Stel jouself aan die mentors voor – sê wie jy is en waar jy vandaan kom. Tag die mentor wat jy wil hê in jou plasing. Gebruik die volgende:
Monique Steyn
Facebook: @MoniqueSteynSA
Instagram: @moniquesteynsa
TikTok: @moniquesteynsa

Refentse
Facebook: @RefentseSA
Instagram: @refentsemusiek
TikTok: @refentsemorake

Tarryn Lamb
Facebook: @Tarrynlamb
Instagram: @tarryn_lamb
TikTok: @tarrynlamb

Demi Lee Moore
Facebook: @DemiLeeMoorSA
Instagram: @demilee.moore
TikTok: @demileemooresa

Jy sal ook Die Kontrak in jou plasing moet tag. Vir Facebook gebruik @DieKontrakTV, Instagram @diekontraktv en TikTok @diekontrak. En maak seker om die hutsmerke #WenDieKontrak #Inskrywing #etv te gebruik.
2. Registreer jou inskrywing op Die Kontrak se webblad, deur hier te klik. Deur hierdie stap te volg, verseker jy dat, jou inskrywing die kenners gaan bereik.
3. Kry jou vriende en familie om jou te ondersteun. Sodra jou inskrywing gelaai is op sosiale media en geregistreer is sal jou sosiale media gemonitor word om te kyk of jou vriende ook dink dat jy die kontrak werd is. Jy sal ook ’n skakel ontvang om stemme te werf.
Hou dít ingedagte wanneer jy inskryf:
- Alhoewel die oudisie-inskrywingsproses acapella gedoen kan word, kan kandidate hulself ook begelei of deur iemand met ’n musiekinstrument begelei word.
- Kandidate moet in Afrikaans kan gesels en sing. Altesaam 70% van die liedjies en inhoud moet in Afrikaans gelewer word. Inskrywings moet verkieslik ook ’n Afrikaanse liedjie wees maar ander tale word ook toegelaat.
- Die kandidate kan enige ouderdom wees, maar moet ’n Suid-Afrikaanse ID-dokument hê. Indien jy nog nie oud genoeg is om oor ’n ID-dokument te beskik nie, moet jy die geskrewe toestemming van ’n ouer of voog hê om in te kan skryf en moet jy deur ’n ouer of voog by alle produksies vergesel word.
- Die kandidate mag onder geen omstandighede aan enige bestaande platekontrak met ’n platemaatskappy gebonde wees nie en ook nie gebonde wees aan enige kunstenaarsagentskap nie.
- Die kandidate teken in as ’n individuele solo-kunstenaar. Geen groepe, duo’s of orkeste sal toegelaat word om in te skryf nie.
- Neem kennis dat daar uiteindelik slegs een wenner sal wees, maar dit is noodsaaklik dat beide semi-finalsite die datums van AiG 2023 uithou.
- Datums mag dalk verander, maar die produksiemaatskappy sal probeer om so ver moontlik by die datums te bly.
- Die kandidate mag nie enige ander verpligtinge (werk, skool, familie, ens.) gedurende die bogenoemde tydperk hê nie.
- Kandidate wat in die verlede aan ander TV-talentkompetisies deelgeneem het, moet die vervaardigers hiervan in kennis stel indien hul die top-26 haal.
- Gedurende die produksie en uitsaai van Die Kontrak sal die deelnemers se sosialemedia-gedrag gemonitor en bestuur word. Dit moet voldoen aan Coleske Artists en eTV se sosiale media riglyne.
- Deur vir Die Kontrak in te skryf en tot en met die top-8 semi-finaliste aangekondig is, aanvaar deelnemers dat hulle oudisie-video’s eksklusief vir Coleske Artists bedoel is en vir geen ander platemaatskappy nie.
Gereelde vrae:
Is daar ’n ouderdomsbemerking op inskrywings?
Nee, enige persoon van enige ouderdom kan inskryf vir Die Kontrak.
As die opnames in Pretoria gebeur, gaan dit my nie baie duur uitwerk nie?
Nee, as jy een van die Mentors se keuses is en na Pretoria moet reis, sal Die Kontrak jou vervoer, verblyf en etes dek. Vir so lank as wat jy in Pretoria vir die opnames moet wees.
Moet ek vir my inskrywingsvideo met begeleiding sing?
Dit is jou keuse, jy kan met begeleiding of a capella sing, solank as wat jou stemopname direk op die video is en nie vooraf opgeneem is nie.
Wanneer en waar begin die nuwe seisoen uitsaai?
Die nuwe seisoen van Die Kontrak sal vanaf 10 September tot 3 Desember elke Sondag om 18:30 op e.tv uitsaai met herhalings op eExtra en eVOD.
Kan en inskryf al het ek reeds ’n CD gemaak en tree op?
Solank as wat jy nie ’n kontrak met ’n platemaatskappy of ’n vaste agentskapsooreenkoms het nie sal jy kan deelneem.
