FOTO: Verskaf
Corné Pretorius is ’n nuwe stem op die Afrikaanse musiektoneel om dop te hou. Ons het met die musiekmaker gaan gesels.
Jou eerste liedjie Vuur en Vlam is in April vanjaar uitgereik. Hoekom het jy besluit om jou musiekloopbaan in die middel van grendeltyd te begin?
Werk het maar altyd eerste gekom. Ek was reeds besig om te skryf aan songs en die grendeltyd het gehelp dat ek meer tyd aan dit kon spandeer.
Jou liedjies word meestal geskryf deur Francois van Coke en Hunter Kennedy. Hoe het julle bymekaar uitgekom om so saam te werk?
Ek en Francois het ’n gesamentlike vriend en ek het hom so ontmoet. Ons het lank gepraat om nog songs vir my te skryf en na ’n ontmoeting in studio met ’n bietjie sing, het hy ingestem om te help. Hunter Kennedy was ook betrokke en het ons ook besluit om werk saam te doen.
Al drie liedjies wat jy tot dusver hierdie jaar uitgereik het, kry goeie lugtyd op radio. Hoe voel dit om jou liedjie op die lug te hoor?
Dis net eenvoudig amazing. Daar gaan soveel werk in die musiek in en as jy dan hoor dat ’n radiostasie dink dis goed genoeg om dit te speel is dit net oorweldigend! Veral as ’n lied soos Halfvol op ’n stasie soos Bok Radio op die top-30 debuut!
Daar is ook baie goeie video’s vir al drie hierdie snitte. Hoekom dink jy is ’n video belangrik vir enkelsnit-uitreikings?
’n Video gee baie substance aan ’n song. Dis ook belangrik om vir die fans iets te gee om na te kyk. Veral as jy ’n goeie video kan maak wat die storie help vertel.
Die nuutste enkelsnit Halfvol is onlangs uitgereik. Vertel ons meer van hierdie liedjie?
Ek, Francois en Richard Onreat het eendag in studio besluit, om iets te skryf wat jou laat happy voel. Al is dit nie lekker tye nie, net lekker voel. Die boodskap is maklik, leef met die glas halfvol, nie half leeg nie!
LEES OOK: Corné Pretorius reik musiekvideo vir nuwe liedjie ‘Halfvol’ uit
Vertel ons iets van jou daaglikse lewe? Wat is jou roetine? En waar pas musiek-maak in jou dag in?
Ek besit ’n konstruksie maatskappy, Blue Chip Innovation, so ek bou huise elke dag. My musiek is soos ander mense se golf. Ek probeer tyd maak vir die studio om my passie uit te leef.
Gaan jy ook begin optree noudat die grendeltyd verby is?
Verseker. Die Vrede Musiek Fees gebeur binnekort in die Paarl waarin ek, Tasché en Francois van Coke sal optree. Ons wag net vir bevestiging. Hou my Facebook-blad dop vir inligting.
Wat is jou planne vir die volgende jaar?
My plan is om teen middel Desember ’n vollengte album uit te reik en nog ’n paar video’s te doen van songs op die album. En verder gaan ons nog skryf en so veel as moontlik shows doen.
Hoe kan aanhangers met jou kontak maak?
Volg my asb op Facebook of Instagram by @cornepretoriusmusiek.
- Halfvol is nou op digitale musiekplatforms beskikbaar.