Corné Pretorius reik musiekvideo vir nuwe liedjie ‘Halfvol’ uit

FOTO: Verskaf

Die nuwe Afrikaanse kunstenaar Corné Pretorius het die afgelope paar maande vele aanhangers gewerf met sy debuut-liedjies Vuur en Vlam en Vergewe My – dié twee radiotreffers speel tans op radiostasies landwyd en die video’s van hierdie liedjies het gesamentlik reeds meer as 40 000 trefslae op YouTube. 

Tecla Ciolfi, ’n musiek-kenner en eienaar van Suid-Afrika se grootste aanlyn musiek-platform Texxandthecity.com, het ten tyde van Vuur en Vlam se uitreiking vroeër vanjaar, dié gewilde lied as die #TexxTrack van die week, op haar insetsel op Mix93.8FM se Breakfast Crunch program, gekies. Pretorius kry ook gereeld via sosiale media terugvoer dat mense die musiek geniet en sommer nog baie meer wil hoor.

Pretorius het pas ’n video vir sy derde enkelsnit getiteld Halfvol uitgereik. “Dié song het ek, Francois van Coke en Richard Onraet in Van Coke Studios gesit en skryf. Ons wou graag iets skep wat ons opgewonde maak oor die somer wat voorlê. Ons wou sommer lekker losmaak na ’n baie moeilike jaar vir ons almal. Ek hoop dit gaan mense excited maak om hulle visplakkies uit te haal, die drankies yskoud te kry en lekker saam te kuier!”

Kyk die musiekvideo hier:

Corné Pretorius het reeds op 7-jarige ouderdom begin kitaar speel. Sy pa het vir hom ’n verhoog in die motorhuis gebou en hy het baie van sy kinderjare daar spandeer om musiek te maak. Corné vertel dat alhoewel hy ’n groot belangstelling in kitare ontwikkel het, en heelwat indrukwekkende kitare besit, het sy fokus later na sang geskuif. 

“Na skool het ek egter op besigheid begin konsentreer. Die lewe het sy gang gegaan en ek is in 2007 getroud en is die pa van drie pragtige dogters. Ek het musiek vir jare heeltemal opsygeskuif, maar die liefde daarvoor het my onlangs ingehaal. Ek het aan die begin van die jaar met Van Coke Studios kontak gemaak en skryf en neem tans al my liedjies daar op. Francois van Coke en Hunter Kennedy skryf meeste van die onderskeidelike liedjies se lirieke en Richard Onraet, die musiek. Pretorius sê: “Daar is vir my ’n lekker sinergie met Francois, Hunter en Richard. Hulle is ongelooflike talentvolle mense. Ek is baie gelukkig om saam met hulle te kan werk.”

Pretorius het met Johan Nel, wat destyds heelwat van Fokofpolisiekar se indrukwekkende video’s vervaardig het, kontak gemaak om video’s vir al drie die liedjies wat tot dusver uitgereik is te maak. “Johan weet hoe om ’n storie met video te vertel. Hy is so in tune met wat die waaroor die liedjies gaan.”

  • Halfvol is eersdaags op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.