FOTO: Verskaf
Die sanger en aanbieder van die gewilde reisprogram Leef jou reis op kykNET, Gerrie Pretorius, is ná sewe jaar terug met ’n splinternuwe album, Jou hart is weer myne.
“Ons het verlede jaar aan die album begin opneem. Ek het by Touch of Class se studio gewerk saam met van die ou musikante waarmee ek gewoonlik gewerk het in die verlede,” vertel die sanger.
Hy sê dat hulle sommer so tussen Leef jou reis-opnames ook gewerskaf het aan die album. “Daar het ’n hele paar klippe in die pad gerol voor ek die finale produk kon bekendstel.”
Gerrie vertel dat die produksie op die album groot is. “Ek het saam met twee groot stemme gewerk – Lynelle Kenned asook Caroline Grace. Selfs die orkestrasie is groot; daar’s vioole en baie klavierwerk. Ons het ook ’n ‘disturbed’ gevoel geskep met kitare op die liedjie Perhaps Love.”
En, ja – ou gunstelinge soos Annemarie en Sewe Sondes is ook op dié nuwe album te bespeur. Oor die keuse van die insluiting vertel Gerrie: “Ons het besluit om dit weer op te neem, aangesien ek nie die oorspronlike weergawes daarvan het nie. Soveel mense het ook weer daarvoor gevra, so ek moes eenvoudig dit doen.”
Gerrie vertel dat hul reeds moes begin opneem het aan musiekvideo’s vir die liedjie Hey June asook die duet met Caroline Grace. Maar weens Gerrie se dol dagboek is dié takies nog in die pyplyn.
Vra jy hom waarom mense die album moet koop, antwoord hy: “Ek gee albums uit vir die liefde daarvan en om dankie te sê vir my aanhangers. Dis ook vir myself om vir aanhangers te wys dat ek nog sing en dat ek nie vergeet moet word nie.”
“Dis ook ’n lekker-luister album, wat ek nie dink jy sommer gou uit die radiospeler gaan wil haal nie,” voeg Gerrie dan tergend by.
En net voor ons groet. Wat is die drie woorde wat dié album kan opsom? “Groot orkestrasie, tipies Gerrie, jou ballade sanger is terug!”