Tamlyn Wessels het die Afrikaanse musieklandskap behoorlik op hol gehad met haar gewilde treffers “Klein Bietjie” en “Lui Voete”. Nou is dié veelsydige kunstenaar gereed om haar volgende meesterstuk op die wêreld los te laat – die splinternuwe enkelsnit “Mooier As Mens”, wat op 11 April 2025 verskyn!
Dié liedjie, wat sy onlangs akoesties op TikTok gedeel het, het binne ure duisende kyke en reaksies gelok – haar aanhangers kon eenvoudig nie genoeg kry nie. En met meer as 100 000 volgelinge op dié platform, is dit duidelik dat Tamlyn se stem én haar stories mense diep raak.
Wat “Mooier As Mens” só besonders maak, is die oorspronklike invalshoek: waar daar dikwels deur mans gesing word oor hoe mooi ’n vrou is, draai Tamlyn nou die tafels en eer sy die skoonheid van ’n man – innerlik én uiterlik. “Want jy’s mooier as mens vir my…” sing sy in die betowerende koor, met woorde wat dieper sny as verf op ‘n doek.
En ja – daar is ook letterlik verf betrokke! Tamlyn, wat boonop ‘n talentvolle kunstenaar is, het self geskildere elemente bygedra tot die musiekvideo, wat die liedjie se emosie en visuele pragtigheid perfek komplementeer. Dis nie net musiek nie – dis ‘n kunswerk in klank én beeld.
Die lied is deur Tamlyn saam met Emil Paul geskryf, en vervaardig deur die talentvolle Hugo Ludik van Muse Studios – dieselfde ateljee agter talle Afrikaanse treffers.
Met elke noot, elke kwasstreek, en elke woord in “Mooier As Mens”, bewys Tamlyn Wessels dat sy nie net ‘n sanger is nie, maar ‘n storieverteller wat emosie in kleur en klank kan omskep.
Kyk die musiekvideo hier:
Maak seker jy luister na “Mooier As Mens” op 11 April en kyk die prentjie-mooi musiekvideo – jy sal sien én hoor hoekom Tamlyn Wessels mooier as mens musiek maak.
