FOTO: Verskaf
Daar kom ’n oomblik wanneer ’n talent wat deurgaans van krag tot krag gegroei het in volkleur blom. Vir Refentse het daardie oomblik aangebreek, met sy blinknuwe album, Liefdegenerasie.
Met hierdie album, wat uit twaalf snitte bestaan, delf hy dieper as ooit om ’n ryke en eiesoortige musikale skat te ontgin – iets wat, in die saamsmee van poëtiese liriek en musiek wat dit nie deur norme laat voorskryf nie, ’n ander sy van hierdie merkwaardige jong talent se karakter na vore laat tree.
Die album skakel moeiteloos tussen meer akoestiese en vol orkes oomblikke, met ’n verskeidenheid genres wat daarby ingeweef is – kontemporêre en alternatiewe elemente, rock, reggae en selfs ’n tikkie kletsrym wat die volle omvang van Refentse se vokale vernuf ten toon stel en soos ’n splinternuwe, pasgemaakte baadjie aan hom sit.
Dit word uitstekend gekomplementeer deur eersteklas instrumentale verwerkings, met klavier, kitaar, bas, trom, trekklavier, saksofoon, viool en klankeffekte wat nie huiwer om ongekarteerde gebiede te verken en nuwe klanke te skep nie, sowel as uitmuntende agtergrondsang en harmonie, wat beide help om ’n ryk, diep, trots Suid-Afrikaanse egtheid aan die album te verleen.
Diep denker snitte soos Reisiger, Deurmekaar, Doringkroon en As almal ver is word afgewissel met die opbeurende trant van die titelsnit en Ek glo in liefde, die amperse speelsheid van liedjies soos Baie gevaarlik en Beauty of Africa, en die aangrypende Zulu-weergawe van ’n ou bekende, Jantjie. Twee skitter-duette – ’n blinknuwe verwerking van Suikerbossie met Stef Bos en ’n nuutskepping, Dalk, met Elandré – pronk ook op hierdie album en sal, in pas met die ander tien snitte, nie toelaat dat jy slegs een of twee maal daarna luister nie.
Liefdegenerasie merk nog ’n groot sprong vorentoe vir een van Suid-Afrika se mees gewilde jong kunstenaars. ’n Wonderlik eiesoortige, keurig-verwerkte en inspirerende werk wat jou meevoer na die verste uiterstes van jou binneste, waar Refentse jou aanvuur om deel van die liefdegenerasie te wees – ’n móét vir enige goeie musiekversameling!
Die album is nou landswyd beskikbaar, en kan vooraf bestel word op iTunes, Apple Music, JOOX, Spotify en meer.