FOTO: Verskaf
Die sanger Abel Knobel, wat bekendheid verwerf het as lid van die groep NRG Energie, het onlangs sy solo-enkelsnit Die Stilte Het Gepraat uitgereik.
Die snit wat as ’n mid-tempo ballade kan beskryf word, is deur Abel en Pierre Rossouw geskryf toe hy deur diep waters is. “Die pyn wat gepaard gaan met die verlies van ’n liefde, om meer spesifiek te wees is die inspirasie agter die snit,” sê hy.
Volgens Abel is die doel agter sy debuut enkelsnit om agter te kom wie hy regtig as solo-kunstenaar is. “Die laaste ding wat ek wou doen was om die proses aan te jaag. As mens net iets vrystel wat nie goed deurdink is nie, en ook nie outentiek of authentic aan jou is nie, sal dit nooit so groot impak maak nie, en ek dink ons mark is op ’n plek waar die publiek honger is vir iets wat real en honest is.”
Met die snit het Abel unversiële temas soos eensaamheid en verwerping direk probeer aanspreek. En vertel: “Maak nie saak hoe alleen of verwerp jy dalk mag voel nie, die realiteit is egter, ons is nooit alleen nie. Daar is altyd iemand in die wêreld wat deur dieselfde emosies gaan. Moet nooit toelaat dat enige iets of iemand jou stem onderdruk nie. Dit is tyd vir ons almal se stiltes om te praat, want uiteindelik is dit ons stiltes in die lewe wat ons eensaam en depressief hou. ’n Goeie vriendin van my het altyd gesê: Wees wie jy is, waar jy is, al is dit stukkend en laat jou stilte, wat ookal dit is, praat.”
Die musiekvideo vir die snit beeld basies die storie uit in beelde. “Ek wil nie te veel uitbrei nie, mense moet dit self gaan kyk, maar ek kan verklap dat die video eindig wel op ’n positiewe noot van hoop en oorwinning. Amper soos die beeld van iets wat vir lank in die donker was en uiteindelik die lig gesien het. Ek is ook ’n passievolle akteur, daarom het ek besluit om die hoofkarakter in my eie storie te speel,” vertel Abel.
Kyk die video hier:
Oor die album wil hy nog nie te veel verklap nie, behalwe dat dit kant en klaar geskryf is en die produksie soos ’n legkaart van sy lewe gaan wees. “Daar is ’n hele paar verrassings en ek kan wel noem dat ek saam ’n paar groot name in die bedryf gewerk het,” terg hy.
Wanneer Abel nie sing of sy enkelsnit bemark nie, werk hy vryskut by Andre Schwartz se bemarkings besigheid, ASM Marketing. Hy is ook besig om te repeteer vir ’n opwindende kinderteater produksie.