“Dit spreek boekdele dat Afrikaans is Groot in Kaapstad bykans twee weke voor die konsert uitverkoop het. Dit is net weer eens ’n bewys dat die Kaap se Afrikaanse gehore steeds smag na top gehalte Afrikaanse vermaak, op groot skaal,” sê Arnold Coleske, organiseerder van Afrikaans is Groot.
Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Jannie Moolman, Corlea, Elvis Blue, Dewald Wasserfall, Lianie May, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Jay, Karen Zoid, Laurika Rauch, Riana Nel en Bok van Blerk was almal saam op één verhoog gewees, met van hul grootste treffers.
Dis veral Touch of Class se verwerking van die tydlose treffer, Sound of Silence, wat aandag geniet het. Nóg ’n verrassing, wat eksklusief tot Kaapstad se konserte gevoeg is, is ’n optrede deur die sangeres, Monique.
“Ek is baie opgewonde om vir die eerste keer by die konsert te wees. Ek ken hierdie teater, maar om vir die heel eerste keer hier op te tree met ’n oorspronklike liedjie is ongelooflik!”
Volgens Monique bied Afrikaans is Groot ’n platform vir kunstenaars om hul werk aan ’n breër gehoor ten toon te stel.
Emo Adams was ’n groot gunsteling op die verhoog en het self in ’n oogwink verdwyn om weer later in die skare te verskyn.
Dié konsert, wat reeds op DVD vasgevang was, bied jaarliks iets vir die oor en oog met uitstekende klank, beligting, kostuums en spesiale effekte. “Die hele span en kunstenaars sit hulle alles in om vir die gehoor iets te gee wat hulle vir lank sal onthou,” vertel Coleske verder.
Ondersteuners wat nie hul kaartjies kon kry vir vanjaar se uitverkoopte konserte nie, kan reeds uitsien na ’n konsert in 2018 in Kaapstad. Volgens Coleske, wil hulle nie nou al die perde voor die kar span nie, maar kan wel noem dat daar aan idees geskaaf word.
Hierdie produksie bewys dat Afrikaans is Groot sy plek gekry het in Kaapstad, en die fondasie gelê vir nóg Afrikaans is Groot-konserte in die toekoms.
Bly op die hoogte van Afrikaans is Groot-nuus op Facebook en Twitter.
