Dis amptelik. As Fokofpolisiekar genoeg geld kan insamel teen einde April vanjaar, sal die Afrikaanse punkrockgroep in Oktober 2017 hul eerste vollengte album in tien jaar uitreik.
Ofskoon die band sedertdien ’n paar kortspelers en enkelsnitte uitgereik het, was 2006 se Swanesang hul laaste vollengte album en baie aanhangers het gevrees dat dit inderdaad die groep se swanesang was.
Maar presies tien jaar sedert Wynand Myburgh, die baskitaarspeler, in 2007 aan Rapport gesê het dat die groep se lede se paaie geskei het sodat hulle op individuele projekte kan fokus, het hy Vrydag bevestig dat Fokof in 2017 met mening terug is.
“Almal voel dis nou weer tyd om saam iets te doen,” sê Myburgh.
“Toe ons die liedjie “Paranoia” in 2013/2014 bekend gestel het, was die idee om ’n nuwe album te skryf, maar ons het toe net een song ver gekom,” sê hy. “Dit was altyd ’n bietjie van ’n uitdaging omdat ons almal so besig is.”
Myburgh en Francois Van Coke het Van Coke Kartel begin en Van Coke het intussen ook ’n sololoopbaan geloods, Hunter Kennedy en Jaco S. Venter het in aKing begin speel, en Kennedy het ook saam met Johnny de Ridder Die Heuwels Fantasties begin.
Boonop bestuur Myburgh vir Van Coke en Jack Parow en het De Ridder ’n musiekateljee waar hy ook kommersiële musiek vervaardig.
“Almal van ons skep vir onsself ’n inkomste uit die ander projekte, so daar was nie hierdie dringendheid om ’n album te maak vir finansiële gewin nie,” sê Myburgh. “Dit was moeilik.”
“Ons het besef mense is nog moerse geïntresseerd in ons musiek.” – Wynand Myburgh
Met die dat hul inkomstes uit ander musikale geledere gekom het, kon Fokofpolisiekar altyd vir hulle, oftewel Die Bende, ’n passieprojek bly.
“Die afgelope twee jaar was daar hierdie oplewing in belangstelling in Fokofpolisiekar en ons het al hoe meer versoeke gekry om shows te speel. Ons het besef mense is nog moerse geïnteresseerd in ons musiek,” sê Myburgh.
“En wanneer ook al ons vyf bymekaar kom of op ’n verhoog klim, dan connect ons net. Ons noem dit “The Spirit of Fokof”, ons gel net as ’n band,” sê Myburgh.
Met behulp van die skarebefondsingplatform Thundafund.com gaan Fokofpolisiekar in Maart ’n veldtog loods waarmee hulle aanhangers gaan vra om bedrae te belowe wat tot die volle produksiekoste van ’n nuwe Fokofpolisiekar-album sal bydra.
Die volledige bedrag wat hulle sal nodig hê vir ateljeetyd, produksie en bemarking van die album, beloop R500 000 en hulle hoop om dit “voor payday” in April in te samel.
“Ons maak dit half vir onsself en skep iets waarvan ons al vyf hou om te luister. En dit was altyd die Fokof-vibe daai,” sê Myburgh.
“Met die eerste EP (As jy met vuur speel sal jy brand, 2004) wou ons musiek maak vir onsself en vir mense wat soos ons dink en voel. Ons voel nie kommersiële druk nie en dit gee ons 100% vryheid.”
Die Bende het reeds begin om nuwe liedjies te skryf en “die goed wat ons klaar begin skryf het, gee onmiddellik daai Fokof-gevoel,” sê Myburgh. “Dit gebeur baie organies en vanself.”
Maar wat het geword van “werk, trou en kinders kry, en moontlik dan aan depressie ly, iemand moet vra hoekom,” soos wat Fokofpolisiekar in “Tygerberg Vliegtuig” gesing het?
Vandag is vier uit die vyf lede van die punkrockgroep getroud, vier bly in die voorstede van Kaapstad, De Ridder, Van Coke en Kennedy het kinders en baie besit selfs huise.
“Mense het vir ons begin vra oor ons leefstyle, en of dit nie teenstrydig is met wat Fokof gepreach het nie,” erken Myburgh. “Maar niks het verander in ons sieninge nie. Ons het altyd een sterk boodskap gehad: Dat mense vir hulself moet dink. Die boodskap was moenie dat ander mense vir jou sê wat om te doen nie.
“Dis wat Fokof was.
“Die songs wat ons nou gedoen het, daai call is nou nog daar, ons bevraagteken goed,” sê Myburgh. “Maar miskien is ons nou minder veroordelend.”
Hy erken dat die vroeë Fokofpolisiekar effens nihilisties was. “Daar was net een manier, f*k die wêreld, f*k verwagtinge . . . dis punkrock.”
Myburgh sê hy het vandag meer begrip vir mense wat verskillende lewenspaaie kies solank hulle nie deur die samelewing of ander mense beheer word nie.
“Almal soek iets om in te glo of om aan vas te hou en nie almal vind dit in georganiseerde geloof, dwelms of alkhol nie.” – Wynand Myburgh
“As jy op 18 wil trou en kinders kry, doen dit,” sê hy.
“Ek het so opgeëindig – getroud, ’n huisverband, maar ek het dit gekies en my eie pad gevind tot hier en ek het nêrens langs die pad opofferings gemaak nie,” sê hy.
“Almal soek iets om in te glo of om aan vas te hou en nie almal vind dit in georganiseerde geloof, dwelms of alkohol nie. Ek dink Fokof bied dit vir hulle. Mense kort daai gemeenskap en het nodig om te weet dat daar nog mense is wat nie net ja en amen nie. Dis hoekom mense nou nog belangstel in Fokof,” sê Myburgh.
Myburgh sê dat hy baie 18-jariges by Fokofpolisiekar se onlangse vertonings gesien het. “Hulle was drie of vier jaar oud gewees toe ons eerste songs uitgekom het en hulle ken die songs.”
Van hul ander aanhangers is weer ouer en baie is ouer as 40, ’n ouderdom wat al hoe nader kruip vir Myburgh, wat al 38 is. Hulle tree selfs een van die dae by ’n vyftigste verjaardagpartytjie op.
Myburgh sê hoewel die landskap vir jong mense baie verander het sedert die eerste Fokofpolisiekar-liedjies geskryf is, is daar vandag steeds volop materiaal om hul punkrockliedjies wat sosiale kommentaar lewer, te inspireer.
“Vandag is daar sosiale media, daar’s baie onluste, geweld en rassedruk in Suid-Afrika. Mense is dalk vandag meer oopkop as wat hulle destyds was, maar nou is daar ander uitdagings vir jong mense: As ’n wit Afrikaanse tiener waar pas jy in, in dié land?”
Myburgh en Die Bende het in hul nostalgiese Fokofpolisiekar-versameling gedelf om dit vir aanhangers die moeite te werd te maak om befondsing vir die nuwe album te belowe.
Van die items sluit in sy eie ou baskitaar wat talle kere in Fokofpolisiekar-opvoerings geslaan is, ’n ou kitaar van Hunter Kennedy, geraamde plakkate wat uit tot 2003 dateer asook nuwe versamelitems soos horlosies, Converse-tekkies, Jägermeister-yskaste en Levi’s-denimbaadjies met Fokofpolisiekar se handelsmerke op.
Die nuwe album sal eers ’n naam kry wanneer hulle hul skarebefondsingsteiken behaal het.
Hou Netwerk24 dop vir meer inligting.
Luister Fokofpolisiekar se musiek, van As jy vuur speel sal jy brand tot Swanesang, in Liedjie.