Die sanger, Brendan Peyper, is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, Vanaand Sê Ek Net Ja.
Dié snit is die eerste van vele vanaf sy splinternuwe album wat eersdaags die winkelrakke tref. Sedert Januarie vanjaar is hy besig om aan dié album te werk.
“Ek het uitstekende medeskrywers wat saam my skryf, onder andere Neil Schoombee en Kosie van Niekerk, maar twee van die liedjies het ek self gepen,” sê Brendan.
Luister na ’n voorsmakie van dié snit:
“Ons skiet ook die musiekvideo van die liedjie vroeg in Maart, maar voor dit moet ons nog so agt snitte klaar maak,” verduidelik hy.
Dis langure in die ateljee, en hy spandeer minstens 10 ure ’n dag daar. Hoe kom hy die pas op? “Mens moet gesond eet, genoeg afleiding kry en gefokus bly,” sê hy breëbors.
Brendan Peyper en Lianie May is Saterdag, 25 Februarie in aksie by Hedgehog’s Nest.
Bronne: Jacaranda FM, Select Musiek
