Die sanger Snotkop, oftewel Francois Henning, moes Woensdagmiddag baie vinnig ’n paar besittings bymekaarmaak en uit sy huis in Simonstad vlug toe huise daar aan die brand begin slaan.
“My ma, Esther, woon ‘n bietjie hoër bergop en sy moes eerste ontruim. Ek het gejaag om haar te gaan help en ’n paar goedjies in die kar te sit, want sy is nie meer vandag se kind nie. Ons is daarna na my huis, maar dit was nie eens ’n halfuur nie, toe hoor ons ons moet ook ontruim.”
Volgens Francois het mense nogal paniekerig geraak.
“’n Mens kan mos net aan een kant uit Simonstad uit. Daar was oral mense in karre en ’n mens het gesukkel om asem te haal. Dit het gevoel asof ek in ’n Hollywood-fliek is.”
Francois het saam met sy ma en broer, Sharl, Noordhoek toe gegaan.
“Ek het net my ma, broer, laptop en ’n paar dokumente gegryp,” vertel hy. Hulle is nie veel tyd gegun nie. “’n Mens kan letterlik net een of twee goed vat.”
Maar Francois lag toe hy vertel wat sy ma wou gryp.
“Sy wou net haar grimering en juwele vat. Ek sê vir haar: Nee, los die goed! Maar sy is bekommerd oor hoe sy môre gaan lyk as sy nie haar grimering het nie. Sy is nogal ’n show girl. Sy is erg oor haar grimering,” sê hy en lag.
“Iets skop net by ’n mens in wanneer jy in so situasie is – dit is om te oorleef – kry jou familie in die kar en die paar goed wat jy nodig het.”
Francois en sy familie bel elke dan en wan ’n nommer om uit te vind of hulle na Simonstad kan terugkeer. Hulle sal egter eers uitvind of hulle huise nog staan wanneer hulle daar kom.
“Dit is net ongelooflik om te sien hoe almal, die brandweer en nooddienste in so ’n situasie saamwerk. Hulle klop aan elke deur om seker te maak of daar mense is. Hulle roep mense oor luidsprekers. Natuurbewaring probeer bobbejane met kos uit die berge lok . . . Dit is net ongelooflik.”
Hy sê hy het gesien hoe bobbejane en selfs ’n kobra voor die vernietigende vlamme probeer vlug.
“Ek het vandag weer nuwe geloof in die mensdom gekry. Mense kla so oor die land, maar ek het vandag gesien hoe paraat mense is.”
Francois het ’n video geneem van hoe die brande in sy buurt woed:
“Dit is baie winderig en selfs al is die brand nie naby die huise nie, waai die kooltjies tot by huis en dan begin dit brand,” sê Francois. “Ek is net bly almal is veilig en dit is ’n seën dat ons almal so naby mekaar woon.”