Die akteur en musikant, Stefan Ludik, is onlangs met ’n blou-oog gelaat ná een van die groep Elvis se Seun, waarvan hy die hoofsanger is, se optrede die afgelope naweek.
Stefan het Saterdag ’n foto van sy blou-oog op Facebook gedeel. By die foto het hy geskryf dat hy bietjie ys op gesit het om die swelling te laat verdwyn. Ten spyte van sy blou-oog het die sanger steeds opgetree en al sy lojale ondersteuners bedank vir hul ondersteuning en gasvryheid.
Volgens Stefan het hy geen idee wie hom geslaan het nie, en het hom nie eens gesien nie. Hy het niks gesien of verwag nie.
“Ek het pas klaar gemaak om die laaste CD te tekene toe ek omdraai om na die kleedkamer te gaan, vir ons volgende deel van die vertoning. Iets het my geslaan van agter en ek het op die grond geval. Ek kon niks sien nie en het eers later besef dat iemand my geslaan het, toe twee mense my na die kleedkamer dra,” verduidelik hy aan The Juice.
“Niemand het moeilikheid gemaak toe ons besig was met die eerste deel nie. Almal was vol energie en dit was ’n heerlike atmosfeer. Almal het gedans en CD’s gekoop. Dit was uit die bloute en ’n groot skok vir ons, en die mense wat die konsert bygewoon het.
“Dis die eerste keer dat so iets gebeur. Mense nooi ons omdat hulle ons daar wil hê, en ons gee altyd ons beste sodat mense ons weer kan nooi. Dis aaklig dat een ou dit vir almal bederf het.”