Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Internasionale sang-sensasie kom Suid-Afrika toe

Met sy nuwe album, Viva La Dolce Vita, insluitend ’n bonus CD met treffers saam met plaaslike sangers en Suid-Afrikaanse optredes, gaan Patrzio wéér harte verower.

Die internasionale sanger, Patrizio Buanne, wat spog met multi-platinum album verkope, is gereed om Suid-Afrika vir die tiende keer te besoek.  Hy is spesifiek bekend vir sy unieke stem sowel as sy interaktiewe en lewendige vertonings.  Hy het ’n magdom aanhangers wêreldwyd en spog met ’n reputasie as een van die wêreld se mees unieke sangers en Australië se gunsteling Napolitaanse pop crooner.

Hy tree al vir meer as ’n dekade in uitverkoopte teaters in Europa sowel as Australië, Suid-Afrika, Rusland en die VSA op en het al vir bekendes soos die Pous, Koninklike families en vorige VSA President, George W. Bush, opgetree.

Net omdat hy romanties is, en daaroor sing, beteken dit nie dat hy corny of vervelig is nie meen die Italianer, Patrizio Buanne. “Ek het grootgeword met my ouers wat klassieke liedjies van die vyftigs en sestigs in hulle restaurant in Naples, Italië gespeel het. Ek het altyd saamgesing, maar besluit om liewer later rock ‘n roll te sing. Ek was baie goed, het mooi kitaar gespeel en rondgespring op die verhoog. Maar dit het my gepla dat die lirieke nie diepte het nie. Ek hou van lirieke wat iets beteken,” sê die gewilde minnesanger.

“Romanse gaan oor baie meer as kersligetes en Valentynsdag. Dis iets wat elke dag moet gebeur. Iets wat jy in jou hart het. Om iemand se hand vas te hou, te respekteer, by te staan, om te gee, lief te hê, te help in die kombuis… en ja, selfs skottelgoed was,” skerts hy.

“Om romanties te wees is om te luister na jou hart en jouself te wees. ‘n Mens moenie te veel daaroor dink nie. Dit wat in jou hart is moet by jou mond uitkom. ‘n Mens moet real wees. En dit is waaroor ek sing,” sê Patrizio wat boonop ses verskillende tale kan praat.

Die sanger wat al beskryf is as ’n Italiaanse Tom Jones, land 19 Julie in Suid-Afrika om sy nuwe CD, Viva La Dolce Vita te bemark. Die album is uitgereik om sy tien jaar in die musiek bedryf te vier sedert die uitreiking van sy eerste internasionale album, The Italian.

Viva La Dolce Vita is sy vierde internasionale album, en het soos al die voriges, reeds platinum status bereik oorsee.  Dit is ’n ongelooflike prestasie, veral omdat musiek verkope wêreldwyd afneem.  Dit bevat van sy gewilde treffers in Engels en Italiaans soos, Surrender, Al Di La, Il Mondo, Mambo Italiona, Un Angelo en ook ’n paar nuwes.

Die album is vanaf 24 Junie 2016 ook in Suid-Afrika beskikbaar, maar as dubbel CD want Patrizio het ’n spesiale tien jaar herdenking verrassing vir sy getroue aanhangers hier – ’n bonus CD. Daarop sing hy treffers saam met plaaslike sterre. Soos Liefling saam met Steve Hofmeyr,Always on my mind saam met Juanita du Plessis en Ek mis jou elke dag ’n bietjie meer saam met Corlea Botha.

Hy sal ook op 29 en 30 Julie te sien wees by, Classics is Groot, ’n vertoning wat aangebied word deur Coleske artists, wat ook verantwoordelik is vir Afrikaans is Groot.  Classics is Groot fokus op ou klassieke gunstelinge met nuwe woema. Kunstenaars soos Jannie Moolman en Corlea Botha sal onder andere ook saam met Patrizio optree.

Patrizio sing al vir 25 jaar. “Ek is nie ‘n tenoor nie en ook nie ‘n tradisionele klassieke sanger nie. Ek hou van mooi romantiese lirieke wat paartjies gelukkig maak. Musiek wat mense se harte roer. Daar is altyd baie vroue by my konserte en ook ‘n hele paar mans omdat hulle weet hulle gaan baie punte kry as hulle saamgaan,” sê hy en glimlag stout. “Dit is lekker om hulle gelukkig te maak.”

Volgens Patrizio het hy die spesifieke naam vir die nuwe album gekies omdat dit sy lewensuitkyk vasvang. “La dolce vita beteken ‘to live the sweet life’. Dìs my lewe. En nee, daarmee sê ek nie my lewe is perfek nie. Daar is baie hartseer goed wat rondom ons gebeur. Wêreldwyd, maar ek glo dat ’n mens ‘n positiewe lewensuitkyk moet hê.”

“Daar is baie positiewe, goeie energie in die liedjies en ek glo dat dit mense gelukkig sal maak as hulle daarna luister want dit maak my gelukkig om dit te sing. Vir my aanhangers gaan dit gewis ‘n grote wees. En vir die wat my nog nie ken nie, die perfekte geleentheid om my musiek te leer ken,” sê Patrizio.

Hy is mal oor ons sonskynland en veral die mense hier. “Dis baie spesiaal om na ’n land ver weg van joune te gaan en dan so hartlik daar ontvang te word. Mense hier behandel my met soveel respek en liefde. En dan is die land self ook nog so mooi, met soveel verskillende en interessante kulture.”  Hy het ’n swakplek vir ons lekker wyne, veral ‘n goeie Pinotage en gaan graag op wildritte wanneer daar ’n gaping is.

En natuurlik is goeie kos deel van al die lekker in Suid-Afrika, hoe dan nou anders. En soos wat ons in Italië sê, om te eet is ’n necessity, maar om kos te geniet is ‘n kuns, en daar is baie lekker kos in Suid-Afrika.”

Hoewel hy so met passie sing van die liefde, het hyself nog nie ware liefde gevind nie, maar die hoop beskaam nie. “Ek reis baie rond vir my werk, en geniet dit om nuwe mense te ontmoet. Ek is gelukkig op my eie, maar soms wil ‘n mens iets met iemand deel. Wie weet, dalk sal my pad eendag so kruis met die regte een.”

“Ek is baie gelukkig om so suksesvol te wees. Ek het nog nooit gesing omdat ek baie albums wou verkoop nie. Vir my is dit ‘n passie en ek sing omdat dit my gelukkig maak. Ek is baie tevrede met Viva La Dolce Vita en glo regtig dat dit my beste album is sovêr.”

Die eerste enkelsnit vanaf die dubbel CD – I will love you – word op 20 Junie 2016 aan radiostsies in Suid-Afrika uitgereik.

Like Patrizio se Facebook-blad, volg hom op Twitter of besoek sy webblad.