Die somer is om die draai, en Danny Smoke is gereed om die seisoen met ’n bietjie romanse, lekker musiek en ’n aansteeklike ritme af te skop. Sy splinternuwe enkelsnit, “Dans Met My”, word op 30 Oktober saam met ’n musiekvideo uitgereik en beloof om die perfekte klankbaan vir somerpartytjies en laatnag-kuierplekke te wees.
Ná die sukses van sy vorige vrystelling, “Lyftaal”, keer Danny terug met ’n liedjie wat sy romantiese kant na vore bring, sonder om die speelse energie en toeganklike klank waarvoor sy aanhangers hom ken, prys te gee.
“Dans Met My” vertel die storie van iemand wat onmiddellik bekoor word deur ’n meisie wat eenkant staan en eerder die atmosfeer inneem as om op die dansvloer te wees. Te midde van die somer se sorgelose gees en die musiek se ritme, is daar net een ding wat hy wil doen: haar nader trek en vra om saam met hom te dans.
Die liedjie, wat deur Danny Smoke en Johan Vorster geskryf is, vang daardie herkenbare oomblik vas wanneer iemand jou aandag trek en jy die moed bymekaar moet skraap om die eerste tree te gee. Met lirieke soos “Ek wens jy kon jouself sien soos ek jou sien” en die aansteeklike refrein “Dans met my, blou jean-boeremeisie” is dit ’n uitnodiging om ’n kans op liefde te waag en die oomblik saam te geniet.
Agter die produksie staan Murray Lubbe, wat reeds saam met Danny gewerk het aan treffers soos “Yskas Skuif”, “Carina” en “Belowe”. Die twee se gevestigde samewerking is weer eens hoorbaar in ’n vars, moderne klank wat die liedjie se romantiese tema met ’n lekker ritme kombineer.
Met “Dans Met My” bring Danny Smoke ’n liedjie wat ewe goed by ’n strandpartytjie, ’n aand om die braaivleisvuur of ’n spontane danssessie pas. Dit herinner ons daaraan dat ’n onvergeetlike aand soms begin met net een eenvoudige vraag: Dans jy met my?
“Dans Met My” is vanaf 30 Oktober op digitale musiekplatforms beskikbaar, met die amptelike musiekvideo wat terselfdertyd vrygestel word.
