In ’n wêreld waar alles teen ’n vinnige tempo gebeur, die weke besig is en die naweke nóg besiger raak, herinner Ryk Kleinhans luisteraars met sy nuwe enkelsnit, “Spasies”, daaraan dat die mooiste dinge soms in die stil oomblikke gebeur.
“Spasies”, wat op 30 Oktober 2026 vrygestel word, fokus op die oomblikke tussen al die geraas – daardie stiltes waarin woorde onnodig raak en twee mense mekaar op ’n dieper vlak leer ken. Dit is juis wanneer niks gesê word nie dat die belangrikste dinge soms duidelik word.
Die liedjie vier jong liefde, eerlikheid en die onverwagse manier waarop mense mekaar soms vind wanneer hulle glad nie daarna soek nie. Dit herinner ’n mens daaraan om stadiger te leef, die oomblik aan te gryp en ruimte te laat vir dit wat werklik saak maak.
Ryk eksperimenteer intussen saam met vervaardiger Ruan Graaff met ’n opwindende nuwe klank en benadering tot sy musiek. “Spasies”, wat saam met Stephan van Huyssteen en sy skryfvennoot, Petrus van Wyk, geskryf is, bied ’n vars perspektief op Ryk se musikale reis, terwyl die liedjie se kernboodskap eenvoudig en herkenbaar bly.
Met sy fokus op die klein, betekenisvolle oomblikke wat dikwels in die gejaag van die alledaagse lewe verlore raak, nooi “Spasies” luisteraars om stil te staan by die mense wat hul lewens besonders maak.
