Eloff, dié charismatiese kunstenaar wat gereeld opslae maak met sy kreatiewe samewerkings en aansteeklike energie, stel vandag sy splinternuwe album bekend – en dis ’n feestelike musikale pakket vol verrassings en treffers.
LEES OOK: Eloff en Die Piesangskille: ’n Samewerking wat jy nie verwag nie!
Die album is nie net ’n versameling van sy onlangse suksesvolle enkelsnitte soos “Vlerke”, “Koue Kole”, en “Lek My Lippe Af” nie – dis ook ’n toonbeeld van Eloff se groei as kunstenaar. Ná die reuse sukses van sy duet-uitreikings saam met Die Piesangskille op “Groeipyne”, Early B op die somerbanger “Bikiniweer”, en Demi Lee Moore op die roerende “As Ek Dalk”, het Eloff nou die perfekte oomblik gevind om dit alles saam te bring in een afgeronde projek.
LEES OOK: Demi Lee Moore en Eloff se duet is ’n onverwagse, treffende kombinasie
“Wat Kan ’n Man Dan Doen” is die fokussnit van die album, en Eloff gee dit ekstra skop met ’n splinternuwe musiekvideo wat op dieselfde dag as die album vrygestel word. Dié liedjie, volgens Eloff, gaan oor daardie keuses wat ons elke dag moet maak om positief te bly, maak nie saak wat nie:
“Maak nie saak hoe sleg jou dag is nie – kyk altyd na die goeie kant van die slegte kant. Byvoorbeeld – ’n span het verloor, maar was altyd voor, of, jou vleis is taai, maar mooi gebraai.”
En dan is daar nog ’n bonus: die geliefde “Maybe My Baby” kry nuwe lewe met twee vars weergawes. Die een is ’n Lofpop-geïnspireerde weergawe wat beslis voete sal laat jeuk, terwyl die akoestiese weergawe ’n meer introspektiewe kant van Eloff wys – perfek vir ’n laatnag luistersessie.
LEES OOK: Eloff en Early B voorspel ‘Bikiniweer’ hierdie Desember
So, wat kan ’n man dan doen op 25 April? Jy sit daai oorfone op, druk speel, en verdwyn in Eloff se wêreld van ritmes, rympies en rou eerlikheid.
Hierdie album is ’n viering van Eloff se veelsydigheid, sy humorsin en sy vermoë om met luisteraars op elke vlak te konnekteer. Moenie dié musikale hoogtepunt misloop nie.
