Dié Desember se weervoorspelling is warm en sonnig met ’n 100% kans vir goeie klanke, danksy Eloff en Early B se splinternuwe enkelsnit, “Bikiniweer”, wat op 6 Desember 2024 uitgereik word!
Ná Eloff se onlangse treffers, “Groeipyne” saam met Die Piesangskille en die duet “As Ek Dalk” met Demi Lee Moore, wys hy weer sy veelsydigheid met hierdie vrolike samewerking. “Bikiniweer” is gemaak vir die Desember vakansie – of jy nou by die see, langs die swembad, by ’n rivier, of sommer langs die dam kuier, die liedjie gaan jou inspirasie gee om jou bikini en glimlag aan te trek.
LEES OOK: Demi Lee Moore en Eloff se duet is ’n onverwagse, treffende kombinasie
“Die song is net ’n lekker feel good vibe vir my,” sê Early B. “Dit gaan oor die lewe geniet, jou worries los en net chill. Dis vakansie, man!”
“Bikiniweer” gaan oor die energie en vreugde van somer in Suid-Afrika, maar jy hoef nie noodwendig by die kus te wees om dit te voel nie. Eloff spot en sê: “As jy nie by die see kan uitkom nie, tap dan water in die bad – maak jou eie strand!”
Met ’n aansteeklike ritme en vrolike lirieke, beloof “Bikiniweer” om die klankbaan van Desember te wees. Maak dus jou luidsprekers reg vir hierdie treffer, want jy gaan dit beslis op repeat hê!
