Die Op My Eish!-reis staan einde se kant toe. Net drie dames is oor, en Brendan Peyper sal moet kies: Rachelle, Janae of Katja. Wie gaan dit wees?
Net nadat kykers sien op wie hy besluit het, sal daar ’n spesiale episode op kykNET uitgesaai word: Spotify bied aan, Brendan Peyper – Omdat jy mag.
In hierdie bonus-episode direk na die laaste episode van Op My Eish! op 4 April 2024 speel Brendan sy nuwe kort-album, Omdat Jy Mag, akoesties vir die dames. Teen ’n romantiese agtergrond in die bosveld bekoor Brendan die dames vir 30 minute met liedjies van dié album, wat op 5 April 2024 op Spotify vrygestel word.
Kykers sal ook vir die eerste keer ’n liefdesliedjie hoor wat hy vir ’n deelnemer geskryf het. Al die nuwe liedjies is Brendan se eie komposisies, en hy vertel waaroor al die snitte gaan en wat en wie sy inspirasie was. Aan die einde van dié episode sal kykers ook vir die eerste keer sy nuwe musiekvideo Madelein sien.
Dié spesiale episode is moontlik gemaak deur Spotify in samewerking met Select Musiek – ’n Afdeling van Sony Music Entertainment Africa.