FOTO: Verskaf
Vanaf 2 tot 5 Junie 2022 gaan die gemeenskap van Polokwane saamtrek vir ’n musiekfees soos min. Ná die suksesvolle aanbieding van ’n eendagfees met Appel, Dewald Wassefall en Bok van Blerk in 2019 het die organiseerders van die gewilde Grounded Container Bar & Café se Winterfees dit goed gedink om wéér so te maak, maar hierdie keer dit ’n stappie verder te vat…
“Vanjaar se fees gaan oor vier dae strek en sluit Afrikaanse en Engelse musikante van top-gehalte in,” het Janneke de Vos, skakelbeampte van dié fees gesê.
Die fees skop op Donderdag, 2 Junie af met die sanger en musikant, Tuin, gevolg deur die rocker Francois van Coke.
Op Vrydag, 3 Junie kuier vier dinamiese manne op die verhoog. Dirk van der Westhuizen, Juan Boucher, Riaan Benadé en Jay is dan op die verhoog te sien.
Saterdag, 4 Junie gaan sorg vir nóg ’n groter kuier… Swerwer, The Barbosa Experience, JP Zeelie, Franja du Plessis, Pietman Geldenhuys, Brendan Peyper en Elandré gaan met hulle vertonings bekoor, elkeen laat saamsing en die voete laat dans.
Die fees word op Sondag, 5 Junie afgesluit met die geliefde Karlien van Jaarsveld en Jo Black.
“Daar sal ook ’n wye verskeidenheid stalletjies op die feesterrein wees wat wissel van kosstalletjies, drinkgoed, juweliersware, leefstyl, kuns en nog vele meer.Boonop gaan ons hope aktiwiteite aanbied vir die kleinspan,” het de Vos gesê.
Kaartjies vir die fees is te koop by Quicket. Feesgangers kan kies tussen ’n dagpas vir volwassenes en kinders of ’n naweekpas vir volwassenes en kinders.