FOTO: Verskaf
“Dit gaan oor hoe mense wat met hulle eie probleme worstel mekaar partykeer in die proses frommel en verniel,” sê Fransisca Liebenberg oor die betekenis agter haar splinternuwe enkelsnit uit die pen van Thana Nel.
Frommels, wat verwys na stukkies opgefrommelde papier, is ’n moderne kontemporêre enkelsnit wat deur Machiel Roets gekomponeer en geskep is om luisteraars te motiveer om te leer uit hulle foute en op te staan en weer te probeer as dinge nie uitwerk nie.
“Ek het dit gekies omdat ek self daagliks daarna streef om ’n beter weergawe van myself te wees en besef dat die mense waarvoor ek lief is deur dieselfde konflik stoei. Soms vou en frommel ons mekaar sonder dat ons dit bedoel en soms is hierdie vouery juis die proses waarin karakter gebore word. Op die einde van die dag is ons grootste vyand, ons eie swakhede,” verduidelik sy.
Volgens dié sangeres, dieetkundige en fiksheidsinstrukteur behoort die liedjie aanklank te vind by ’n wye gehoor en hoop sy dat mense sal besef dat almal foute maak, en dat daar altyd nog ’n kans is om jouself te verbeter.
’n Musiekvideo van hierdie treffende snit is deur Angel Music Studio Productions vervaardig en beeld abstrakte gevoelens van pyn, wat self en deur ander veroorsaak is, uit. Dit sal binnekort op die kassie en aanlyn te sien wees.
“Die idee van spieël in die video was om die karakter in verskillende vorms uit te beeld. Ons het probeer om die innerlike konflik wat iemand ervaar na vore te laat kom,” deel sy. “Die video is in drie fases geskiet. Eerstens van my agter die klavier, tweedens die klavier as tydlose monument in ons huis en laastens het ons die kampvuur en buitelewe probeer vasvang.”
Fransisca is al van jongs af versot op musiek en het haar eerste kitaar gekry toe sy agt was. Sy het egter na skool BSc Dieetkunde gaan studeer en haar passie vir musiek as fiksheidsinstrukteur deur aërobiese oefeninge uitgeleef.
In 2014 het sy baie betrokke geraak by minderbevoorregte kinders en omdat sy ’n groter verskil wou maak en vir haarself ’n stewige platform vir haar liefdadigheidswerk wou vestig, het sy deelgeneem aan die Mevrou Verenigde Nasies Suid-Afrika-kompetisie waar sy as eerste prinses aangewys is.
Tydens hierdie tydperk het sy spesiaal vir die kompetisie haar eerste enkelsnit, Love Can Build A Bridge, opgeneem wat baie goed deur die beoordelaars en mede-deelnemers ontvang is.
Na haar pa se dood en nadat sy aan verskeie internasionale skoonheidskompetisies deelgeneem het, het sy in 2016 (op die ouderdom van sewe-en-dertig) haar eerste album – Kyk Waar Is Ons Nou – opgeneem en uitgereik. Die titelsnit is baie goed ontvang en sy is uitgenooi om dit tydens die gala-aand van die Mrs. Universal-kompetisie in die VSA te sing.
Haar tweede album, Liefde, het ook talle radiotreffers (plaaslik en oorsee) en suksesvolle musiekvideo’s opgelewer en aan haar ’n Melomaan-toekenning (Beste Nuwe Vroulike Kunstenaar) besorg.
Fransisca vind inspirasie in betekenisvolle musiek en verklap dat sy graag nog eendag saam met Laurika Rauch sou wou werk; iemand wat sy al van haar kinderdae af bewonder.
Tans is sy besig om te werk aan haar eie reeks, Liggewig, vir NET Afrikaans waar sy met sportsterre gesels en hulle uit daag om saam met haar “liggewig” oefeninge te doen.
Sy het nog baie drome vir die toekoms en Frommels is maar net die begin van nog baie suksesvolle projekte wat sy beplan.
- Frommels is nou aanlyn beskikbaar.
Kyk die musiekvideo eksklusief hier: