FOTO: Verskaf
Wilha Carstens se eerste enkelsnit, Ek sal jou weer kies, is vroeër vanjaar vrygestel en dié besonderse snit kom uit die pen van die begaafde liedjieskrywer Johan Oberholzer se pen.
In die liedjie word alle vorme van liefde gevier. “Om elke dag op te staan en te baklei vir iemand. Dis ’n tipe omgee wat geld nie kan koop,” sê Wilha.
Die musiekvideo sluit ook perfek aan by die boodskap van die liedjie en beeld opregtheid, ware liefde, ondersteuning en aanvaarding uit. “Verskillende mense met verskillende situasies. Tog kies almal om mekaar te aanvaar net soos jy is.”
Een van dié vorme van liefde is die van ’n ma en haar kind… en daarom het Wilha besluit om die musiekvideo met sy ma, Annelie, af te sluit. “My ma is my ma, beste vriendin en mentor in die lewe. Ek sou op geen ander manier my musiekvideo wou afsluit, deur om vir haar te sê, Ek sal jou weer kies,” vertel Wilha.
Wilha sê dat sy ma hom geleer het om eers die mooi in mense raak te sien en dan dit wat pla… “Wees geduldig, want wat jy vir mense gee kan vinnig vergete gaan, maar hoe jy mense laat voel, sal hul altyd onthou.”
“My ma het my geleer om te aanvaar dat alles ’n tyd en plek het. Werk hard en doen altyd die regte ding. Die lewe se hartseer is soms die beste leerskool.”
En wat sal Wilha se boodskap aan sy ma wees hierdie Moedersdag? “As ma ooit gedink het ma het foute gemaak… gooi ’n glasie rooi in die mooie Kaap, wees rustig en wees trots op jou kinders.”
En vir die wie se ma’s nie meer daar is? “Aan almal wat ’n ma het met vlerke… Sy was nog altyd ’n Engel. Onthou elke woord en raad. ’n Ma is altyd reg.”
Wilha se hoop vir die toekoms is egter om al die liefde te kan kry wat hy kan en terug te gee deur musiek.
- Ek sal jou weer kies is nou beskikbaar op digitale musiekplatforms.