FOTO: Karin Amm
Prophet se aanhangers, wat reeds vir jare vra dat die duo weer hulle stem laat hoor, sal bly wees om te hoor dat hulle met die vrystelling van ’n nuwe album, Die Kolonie, op 6 April 2021 hulle stilte van sestien jaar verbreek het. En nie sommer net só nie! Hulle het onmiddellik, die oomblik wat die album bekendgestel is, die eerste posissie op Apple Music se Christelike ranglys ingeneem!
In 1982 het Koos van der Merwe en Theo Geyser begin om mense die lewe te laat bekyk deur Prophet se bril. Dit is nou honderde optredes, 10 CD’s, twee SAMA-benoemings, en 7 ATKV Liertoekennings later, maar Prophet het sedert 2005 nog nie weer ’n album die lig laat sien nie.
Hierdie twee doktore skok en inspireer oudergewoonte weer. Die Kolonie is ’n album wat nie skroom om te sê wat gesê moet word nie. Vanaf die selfverryking van politici en kerkleiers, die misleiding van armes, die ontnugtering van Hollywoodliefde, tot die diep dors wanneer geloof by sy doodloopstrate kom – alles tema’s waaroor Prophet poëties protesteer en lamenteer. Tog het hierdie album ook sy vrolike oomblikke van dankbaarheid en die mooiheid van die liefde.
As jy op soek is na ’n album wat skop, maar terselfdertyd ook lewe, is hierdie een vir jou! Die Kolonie gaan jou laat dink en dans… en dalk ook laat huil of kwaad word. Maar een ding is seker, jy gaan weet dat jy hier nie te doen het met speletjiesmusiek nie.
Dit skop!
Hoe dan anders?
Dis Prophet… alive and well and living in the Colony of South Africa.
- Die album is nou op digitale musiekplatforms beskikbaar.