FOTO: Willem Botha
Al voel jy soms soos ’n vis wat in ’n net vasgevang word, daar’s altyd hoop en uitkoms – jy moet net vasbyt. Hierdie inspirerende woorde is die kernboodskap van Zander (34) ’n nuweling op die plaaslike musiektoneel se debuutsolo, Voorwaarts! Zander het die lirieke en musiek van Voorwaarts! self geskryf en hierdie liedjie word nou digitaal deur Embrace The Brand Media landwyd vrygestel.
Zander vertel hy het Voorwaarts! al ’n rukkie terug geskryf en mettertyd so bietjie geskaaf en aangepas. “Ek het die liedjie vir die breë spektrum van die publiek geskryf. Baie mense gaan deur moeilike tye, of dit nou ’n liefdesteleurstelling, finansiële probleme, depressie of die dood van ’n geliefde is. Ek poog om met hierdie liedjie vir mense die boodskap oor te dra daar’s altyd ’n lig in die tonnel en daar’s altyd hoop,” verduidelik hy. “God is almagtig en Hy sal altyd voorsien,” voeg hy by. “Al gaan dit ook hoe sleg met jou, het ek self persoonlik ondervind, hindernisse het ’n vervaldatum. Jy moet net aan jou geloof vashou en nooit God se hand los nie.”
Dit was sy pa en sy meisie Caelen Visagie wat hom aangemoedig het om sy liedjie op te neem, vertel Zander wat op Lydenburg grootgeword het en sedert 2004 op 18-jarige ouderdom in Pretoria wortel geskiet het.
Zander, wat sportwetenskap aan die Universiteit van Pretoria studeer het sê musiek was eintlik nog ’n integrale deel van sy lewe en ʼn stokperdjie. “Ek kom uit ’n musikale familie. My pa, Eben, het in ’n band gespeel en my ma Denise is ook musikaal,” vertel hy. Zander het met die musiek van die Beatles, die Bee Gees, Jim Reeves en Smokie grootgeword en hy het van jongs af koor gesing. “Ek het ’n groot voorliefde vir koormusiek en het op universiteit in die Tuks Camarata koor onder leiding van Christo Burger gesing.” Hy is ook die afgelope vyf jaar lid van die mannekoor The Fellowship onder leiding van Phillip Visagie, wat uit 20 koorlede bestaan. “Ons sing ’n verskeidenheid musiek van geestelike musiek soos The Lord’s Prayer tot Afrikaanse kontemporêre musiek soos Die Man Op Die Maan en Willem Wouter.”
Hy is ook koormeester van sy gemeente die Ou Apostoliese Kerk van Afrika.
Zander vertel hy het ’n groot passie vir Afrikaanse musiek en Afrikaanse kunstenaars soos Coenie de Villiers, Refentse, Mathys Roets, Theuns Jordaan, Elandré en die groep Klopjag. Zander speel ook kitaar. “Ek het nooit formele opleiding gehad nie maar kan darem ook bladlees en so bietjie klavier speel,” bieg hy.
Hierdie trotse pa van ’n sewejarige dogter Zané is voltyds ’n entrepreneur. As jy hom nie agter sy kitaar of lessenaar kry nie, is die kanse goed dat hy op die sportveld is. “Ek was op skool baie oorgewig en het nie eintlik aan sport deelgeneem nie,” vertel Zander wat ’n allemintige 100 kilogram oor sowat 17 jaar afgeskud het. “Deesdae speel ek graag gholf en muurbal. Ek is baie lief vir enige sport wat my fiksheid en uithouvermoe uitdaag.”
Zander sal na sy vuurdoop van Voorwaarts! graag sy musiek nog ’n paar stappies verder wil neem. “Ek het ’n hele paar liedjies waaraan ek werk en skaaf en dit is my droom om binnekort dalk my eerste album uit te reik,” vertel hy.
- Voorwaarts! is nou op verskeie musiekplatforms besikbaar.
Kyk die musiekvideo eksklusief hier: