Wilhelm Lichtenber sing ‘Somerkersfees’, ander Kersliedere

FOTO: Verskaf

Met  net  soveel  passie  en  toewyding  soos  elke  hartoperasie, benader  Dr  Wilhelm Lichtenberg,  ’n  hartchirurg en  (in  sy  uiters  beperkte vrye  tyd  buite  die  hospitaal)  klassieke tenoor van Kaapstad sy nuutste projek, wat ’n boodskap van vrede, genesing  en hoop aan elke Suid Afrikaner moet uitdra. 

Dié snydokter, beskeie  dog  net so skerp soos  die  operasiemes  waarmee  hy  daagliks  mense  se  lewens  red,  se  breinkind  staan  bekend as  Gebed  Vir  VredeDit  beslaan ’n  versameling gewyde liedere, waarvan ses oor ’n tydperk van twee jaar as musiekvideo’s uitgereik sal word. Die video’s staan onder direksie van bekende draaiboekskrywer en  rolprent maker Frans Cronje (Faith Like Potatoes, Hansie). ’n Verdere ses liedere gaan  saam  met  die  bogenoemde  versameling op  ’n  unieke  album  saamgevat  word wat Paasfees volgende jaar die lig sal sien. 

Die eerste lied in die reeks, Koos du Plessis se immergroen Kerslied Somerkersfees, is  pas vrygestel en selfs Wilhelm is stomgeslaan deur die unieke interpretasie van die lied,  wat al deur verskeie kunstenaars opgeneem is. 

Die legendariese Amanda Strydom het haar grasieuse en alom beminde fluweel stem by  Wilhelm  se  glashelder  en  pragtig  afgeronde  tenoorstem gevoeg  en  saam  met  die  Tygerberg  Kinderkoor  en  die  Suid  Afrikaanse  Jeugkoor het  Riaan  Steyn  se  geniale  verwerking in ’n elegante en hartroerende juweel ontaard wat beloof om dié Kersfees se  grootste treffer te wees.  

Dit is ook die eerste keer dat ’n Sesotho vers by dié gewilde kerslied bygewerk is en dit  word meesterlik deur Lichtenberg, wie self vlot Sotho magtig is, vertolk en moeiteloos  in die Afrikaanse teks verweef. Die vers is die pennevrug van Derek Phofa, ’n kollega van 

die chirurg wat as verpleër saam met hom na sy pasiënte in die Intensiewe Sorgeenheid  omsien. 

Deur die  lied  so  verteenwoordigend  as  moontlik  te  interpreteer,  glo Wilhelm  dat  die  boodskap van vrede en liefde tot elke Suid Afrikaner sal spreek.  “Ek wil die boodskap in  almal se harte gaan bêre,”  sê hy met ’n glimlag. 

“Dit is sekerlik die belangrikste boodskap wat ons land op hierdie stadium moet hoor,” gaan hy voort. “Daar is lankal nie meer tyd of plek vir politiek as dit om mense se lewens  gaan nie. Ons as eenvoudige landsburgers, van alle kleure en geure, moet weer in vrede saamstaan en hande vat om ons eie veiligheid en toekoms te verseker.”

Hy het self met ’n sekuur hand die mense saam met wie hy graag  wou werk uitgesoek  en  het  hulle  persoonlik  genader om  deel  van  die  projek  te  word, wat  met  die  motto  “Saam  na  ’n  nuwe  begin,  saam  na  ’n  beter  lewe” sy  uiters  belangrike  boodskap  wil uitdra.  

Gebed Vir Vrede sluit onder andere ook liedere soos Gebed vir Afrika, Wees Stil en Weet,  Gebed, Ndikhokhele Bawo en I Vow To Thee My Country in en poog om fondse in te samel  vir Vriende van Landbou, ’n nie-winsgewende organisasie wat hom dit ten doel stel om  boere gemeenskappe wat deur die voortslepende droogte en die onlangse vernietigende  brande geknel is, by te staan. 

“Ek het nog altyd gesê ek wil met elke lied wat ek sing ‚n verskil maak en ek hoop ons  kan dit op hierdie manier bereik,” sê Wilhelm.  

Oor die redes waarom Wilhelm besluit het om Vriende van Landbou te ondersteun sê hy:  “Elke dag word elkeen in ons land se lewens bedreig deur ‘n  kultuur van geweld. Die  verantwoordelikheid lê by ons as landsburgers om hande te vat en saam te staan om die  probleem op te los en ons wil daardie boodskap oordra.” 

“Ons land se voedselsekerheid is in gedrang. Die voortslepende droogte en onlangse  brande het nog meer druk op dié krities belangrike ekonomiese sektor geplaas. Die grootste nagevolg van die afgelope jaar se staat van inperking, naamlik ernstige  hongersnood weens armoede, gaan katastrofale gevolge hê en gaan nog lank in die  toekoms gevoel word.”

Suid Afrika se “Singende Chirurg” het verlede jaar op sy eie kenmerkend beskeie wyse op  die  musiektoneel  as  een  van  die  land  se  voorste  kunstenaars  ontpop  met  sy  sensasionele debuut  album, Tale Van My Hart. Dié album is  vir  ’n  SAMA -toekenning  benoem, ’n ongekende prestasie vir ’n eerste album. Hierop snoer hy onder andere vir die  titelsnit met  die  bekroonde  Nederlandse  sanger Stef  Bos kragte saam. Dit  is  baie  goed  deur  die  publiek ontvang  en  Wilhelm  se  naam  is  nou  op  bykans  elke  musiekliefhebber se lippe.