FOTO: Verskaf
In sy nuwe enkelsnit, U is Groot, wil Hannes Oosthuizen God se naam groot maak en wil hy sy luisteraars bewus maak om húl fokus van hul eie omstandighede af te haal.
“Ek wil hê ons moet meer draai na dáár waar ons hulp vandaan kom – van Hom wat hemel en aarde gemaak het,” het Hannes vertel.
U is Groot is die titelsnit van Hannes se album wat binnekort, op Vrydag, 4 Desember, vrygestel sal word en dié liedjie is self deur hom gepen.
“Ons gesin het ’n moeilike, uitdagende vyf jaar agter die rug, maar ek het nie genoeg woorde om te vertel hoe dankbaar ek is nie,” verduidelik hy.
Dis juis daarom dat hy dié liedjie geskryf het, want hy kon God se teenwoordigheid in elke oomblik sien.
“Dié liedjie kom uit ’n hart van dankbaarheid teenoor God want Hy het ons gesin deur dit als gedra,” voeg hy by.
Hannes was baie siek en moes n dubbel-pasaangeër kry wat hul ook finansieel laat swaartrek het.
“U is Groot – die liedjie én album – is nie oor ’n paar dae en jare se ervarings geskryf nie, maar oor my eie persoonlike wandel saam met God die afgelope 23 jaar,” vertel Hannes.
Hannes het vertel dat hy met dié liedjie almal wil bemoedig in hul daaglikse stryd – veral in tye wat nou dalk bietjie meer uitdagend kan wees as vroeër.
“Ek glo elkeen wat die liedjie hoor sal dadelik God in hul situasie kan sien en vir ’n oomblik God se salwing kan ervaar,” het hy gesê.
In die musiekvideo speel ’n persoonlike gebed af en dis in Hannes se eie huis in Nylstroom verfilm. Die fotograaf Janine Pretorius en sanger Riaan Benade, wat self onlangs die musiekbedryf gestormloop het met sy treffer Gooi Nog ’n Whiskey en sy hartroerende vertolking van There Was Jesus saam met Demi Lee Moore, was by die produksie van Hannes se musiekvideo betrokke.
Hannes, wat ook sy eie konstruksiemaatskappy besit, het vertel dat hy inspirasie kry by die voormalige sanger, Franna Benade, wat ook vandag in die bediening is.
Hannes het U is Groot by sy eie studio, Newsong Records, opgeneem en het ook ’n musiekskool, NewSong.
Dié nuwe album sal deur die gesogte platemaatskappy Coleske Artists gepubliseer en versprei word.
“Ek hoop dat ek ook eendag saam met kunstenaars soos Retief Burger en Riana Nel sal kan werk, maar intussen leef ek dankbaar vir elke geleentheid wat ek gebied word,” vertel hy.
- U is Groot is nou digitaal beskikbaar.
Kyk die musiekvideo hier: