FOTO: Verskaf
Om ware liefde aanlyn te vind, is deesdae glad nie ’n vreemde verskynsel nie en talle paartjies het al suksesvolle verhoudings met die druk van ’n knoppie gebou.
Pieter Marcato sing in sy splinternuwe enkelsnit, Swipe Regs, juis van hierdie tipe liefde en hoe dit lewens kan verander. “Een van my beste vriende het onlangs met sy sielsgenoot getrou. Hulle het op ’n afspraaktoepassing (dating app) ontmoet en dit het my laat besef dat mense mekaar op verskillende maniere kan ontdek,” verduidelik die musikant oor die inspirasie agter sy tweede solo-vrystelling.
Swipe Regs is ’n lekkerluister Afrikaanse popliedjie, uit Pieter se eie pen, met ’n opgewekte ritme wat jou voete sal laat jeuk om te dans. “Ek dink luisteraars gaan aanklank vind by die lirieke en dit geniet om saam te sing en dans,” sê die kunstenaar.
Die musiekvideo sal op 20 Maart 2020 vir die eerste keer sy TV buiging eksklusief op VIA TV se Klink Soos Naweek program om 19:30 die aand maak en gaan oor ’n ou wat ’n afspraaktoepassing gebruik om die liefde van sy lewe te ontmoet. Die video is deur Trots Afrikaans, op die dak van ’n gebou in die stad, verfilm en is baie uniek aanmekaar gesit. “Ek dink die musiekvideo pas perfek by die storie van die liedjie en dat mense daarvan gaan hou,” meen hy.
Luitser na ’n voorsmakie:
Sy nuutste vrystelling volg in die voetspore van sy debuut-enkelsnit, As Jy Vra, wat in 2019 uitgereik is en steeds oor die radio gehoor kan word.
Pieter het in Pretoria grootgeword, waar hy steeds vandag nog woon. Na skool het hy deur Damelin klankingenieurswese studeer en in hierdie tyd het sy pad met Ben van Zyl gekruis. Kort daarna het hulle besluit om saam die groep, Marcato, te begin wat vandag nog bestaan.
Oor die jare was hy deel van verskeie groot musiekproduksies, waaronder die Simon and Garfunkel Tribute Show, Bob Dylan Tribute Show en die ACDC Tribute Show, wat almal verskeie jare opgevoer is. Hy is ook die stigterslid van Legato Records, wat ’n hele aantal musikante huisves.
“Musiek is in alle opsigte deel van my lewe en ek is in my element wanneer ek die passie aan ander mense kan oordra – in watter vorm dit ookal mag wees. Dit is een van die dinge wat mense bymekaar kan bring en dis vir my ’n eer om deel te wees daarvan,” verklap hy oor sy loopbaan sover.
Ten spyte van sy besige skedule, het dié veelsydige ster in 2017 saam met Altus Theart (Getroud Met Rugby) en Jerry Spangenberg die alternatiewe popgroep, EON, begin. Dié groep het reeds ’n baie groot aanhang en hulle debuut-enkelsnit, Bittersoet, was dadelik ’n treffer. Ligjare, hulle eerste album, het sedertdien verskeie ander gunstelinge opgelewer en die trio is deesdae ’n bekende gesig by die meeste groot musiekfeeste in die land.
Pieter Marcato het voorwaar baie ysters in die vuur, maar dit is juis sy passie vir musiek en harde werk wat hom gebring het tot waar hy nou is.
Swipe Regs stel nie net ’n ander sy van dié dinamiese kunstenaar aan die publiek bekend nie, maar bou ook voort op die nuwe en opwindende hoofstuk van sy loopbaan waarmee hy tans besig is.
Die enkelsnit is nou op digitale musiekplatforms beskikbaar.