FOTO: Verskaf
Ons leef in ’n tydperk waar almal in die wêreld, meer as ooit tevore, met mekaar verbind is. Tog lyk dit asof die mensdom vergeet het hoe om op ’n emosionele vlak met mekaar te kommunikeer.
In haar splinternuwe enkelsnit, Praat, spreek Chereé hierdie belangrike kwessie aan. Dit is tien jaar sedert sy haar laaste solo-album vrygestel het, en daarom het Suid-Afrika se gunsteling-Country-meisie heelwat om te sê.
“Ek het die liedjie geskryf omdat ek voel dat mense nie meer regtig met mekaar praat nie,” sê sy. “Ek wou almal daaraan herinner dat hulle nooit alleen is nie en dat gebed kragtig kan wees wanneer jy niemand het om mee te praat nie. Hy is immers altyd daar om te luister.”
Kyk die musiekvideo hier:
Die snit is deur ’n baie persoonlike gebeurtenis geïnspireer. “’n Vriendin het eenkeer vir my ’n brief getik oor alles wat ek verkeerd doen in ons verhouding. Sy het langs my gesit terwyl ek dit lees en, alhoewel ek dankbaar was oor haar eerlikheid, was ek kwaad omdat sy nooit met my oor hierdie probleme gepraat het nie. Op pad huistoe, het die idee vir Praat ontstaan en teen die tyd wat ek by die huis gekom het, was die lirieke byna klaar geskryf.”
Toe sy die lirieke weer deurlees, het sy iets belangriks besef: “Elke woord in die liedjie het ’n boodskap gedra wat ek graag met my man, kinders, familie en vriende wou deel – dat jy nooit alleen is nie. Ons leef in ’n tydperk waar tegnologie oorgeneem het en ons nie meer praat nie. Dit is die grootste fout in enige verhouding. Ons moet oor alles praat; die goed en die sleg.”
Omdat dit die eerste Afrikaanse liedjie is wat Chereé vrystel, is sy oneindig trots op Praat. Dit is egter as gevolg van die boodskap dat sy besluit het om dit as eerste enkelsnit vanaf haar komende album vry te stel. “Dit het vir my, persoonlik, ’n baie belangrike boodskap en ek hoop dat dit vir almal wat daarna luister iets sal beteken. Ek wil hê dat mense moet weet dat hulle nooit alleen is nie.”
Chereé glo regtig dat almal daarby sal aanklank vind. “In Praat deel ek ’n stuk van my hart en ek dink dit is ook iets wat baie ander mense voel,” verduidelik sy. “Alhoewel die onderwerp universeel is, sal dit iets anders beteken vir elke luisteraar en dis wat ek wil hê – dat dit mense moet laat dink en voel.”
Praat is deur Vaughan Gardiner en Hugo Ludik vervaardig en die eindresultaat spog met ’n opgewekte pop-klank, wat jou uitnooi om dit oor-en-oor te luister en is die eerste vrystelling vanaf Chereé se nuwe album wat op 31 Mei 2019 uitgereik word.
Die nuwe album sal hoofsaaklik ’n Country-aanslag hê, maar sal ook verskeie popliedjies insluit om iets vir elke oor en smaak te bied.
Praat is die perfekte liedjie vir enige musiekliefhebber se speellys en van haar treffendste werk tot op datum. ’n Mens kan nie anders as om uit te sien na die musiek wat hierdie dinamiese sangeres oor die volgende dertig jaar gaan lewer nie.
Praat is nou beskikbaar op alle digitale platforms.