FOTO: Verskaf
Jauni M se country-popsnit met ’n rock-ondertoon, Niemand Anders, is in September verlede jaar vrygestel en dié liedjie met die lekker ritme wat perfek pas by haar unieke stem se musiekvideo is ook pas bekendgestel!
Die musiekvideo is geskiet net buite Jauni M se tuisdorp, Parys, in een van haar gunsteling kuier plekkies, Dog & Fig. Daniel Rademeyer en Jannes Erasmus was verantwoordelik vir die konsep, regie, produksie en vervaardiging van die video. Dié twee is ’n dinamiese span en werk gereeld saam met groot name soos onder andere Robbie Wessels en Jo Black. Jauni M se hare, grimering en stillering is gedoen deur Natasha Bouma.
“Die musiekvideo gaan oor eerste ontmoetings, amper soos liefde met die eerste oogopslag. Jy is nie lekker seker wat nou in jou hart aangaan nie, maar al wat jy weet is jy het nog oor niemand anders so gevoel nie. Dit is so ’n lekker vlinder in die maag gevoel en jy wonder waarheen dit kan lei,” sê Jauni M.
Die bekende akteur, David Konrad (Binnelanders, Rythm City) wys gesig in die musiekvideo en Jauni M sê dat hy dit vir haar baie gemaklik op die stel van die video gemaak het. “Ek is baie skaam, maar omdat hy ervaring het, het hy my dadelik touwys gemaak en op my gemak gestel.”
LEES OOK: Jauni M sing country-pop soos ‘niemand anders’ kan!
“Ons het wel vir hom ’n lekker poets op die stel van die musiekvideo gebak! In die video nooi hy my om by sy tafel te kom sit en gesels – ek is ’n kelnerin en bring vir hom ’n koppie koffie. David drink nie oor die algemeen koffie nie. Ek het agter die skerms so bietjie tobasco sous in sy koffie gegooi en kon natuurlik nie my lag inhou nie. Met die eerste skoot en kameras wat rol vat hy ’n sluk van sy koffie en kyk met sulke waterige ogies vir my. Almal weet wat aangaan, maar niemand sê niks. Die regisseur vra toe hy moet net weer ’n slukkie koffie vat want hulle wil net seker maak hulle het die skoot gekry. Arme David vat maar ewe gehoorsaam nog ’n sluk, maar toe hulle hom ’n derde keer vra om nog ’n sluk te vat, toe sit hy voet neer en sê nee die koffie brand dan! Almal het natuurlik uitgebars van die lag,” vertel Jauni M met ’n stoute glimlag!
Jauni M se eerste solo-album sal later vanjaar uitgereik word.
Niemand Anders is nóú op alle digitale musiekplatforms.
Kyk die musiekvideo eksklusief hier: