FOTO: Verskaf
Die groep Marcato het pas hul nuwe enkelsnit, Staan Net By My, wat hul liefde vir die natuur en die stilte op die plaas vasvang, vrygestel.
Staan Net By My is deur die hele groep self geskryf, tydens ’n skryfsessie in Parys langs die Vaalrivier. “Ek het die woorde geskryf, en die res het alles langs die Vaalrivier gebeur,” vertel Ben van Zyl, een van die groeplede.
Volgens Ben gaan die liedjie maar net oor die rustigheid van die natuur en die plaas en lê hom na aan die hart omdat hy op ’n plaas groot geword het. “Ek kom van die plaas af, so dit gaan maar net oor die mooi van die natuur en waar enigiemand sal wil gaan rus en dink,” vertel hy. “En natuurlik ook om iemand saam met jou plaas toe te vat om die natuur en stilte met iemand na aan jou te deel.”
Die groep hoop dat die publiek die liedjie goed sal ontvang nes hul vorige enkelsnitte. “Ek dink dit is ’n lekker liedjie vir die langpad. Dit pas in by ons ander Afrikaanse liedjies wat ons al vrygestel het, ons hoop die mense hou van hierdie een ook,” sê Ben.
Luister hier na ’n voorskou:
Verder wil hulle hê mense moet gelukkig wees as hulle hul album luister. “Ons album se naam is Vrede vir almal… dit is wat ons vir almal wil hê, in hul verhoudings, in hul vriendekringe, in die land, oral.”
Die musiekvideo vir die snit is in die prentjiemooi Dullstroom geskiet, en oor die keuse vertel hulle: “Ons het ’n ou bussie gekry en in Dullstroom gaan skiet. Dit gaan maar net oor hoe ons toer en oor hoe mooi ons land is op sekere plekke. Ons wou baie natuur in die video insluit en Dullstroom was in die kol hiervoor. Daar is berge, klippe, gras, water en mooi bome, alles wat ons gesoek het.”
Marcato bestaan uit Euan Nel, Erik Swart, Pieter Marcato, Jerry Spangenberg en Ben van Zyl. Die groep wat reeds ’n dekade musiek maak sonder al die feeste waarby hulle al opgetree het, en hul album as van hul hoogtepunte uit.
Musieksterre soos Bob Dylan, Pink Floyd, Queen, Bruce Springsteen, Mumford inspireer hulle en plaaslik is dit Spoegwolf en Francois van Coke wat ’n invloed het op hulle. “As ons iemand moet kies saam met wie ons nog sal wil werk is dit seker Danie du Toit van Spoegwolf en Valiant Swart.”
Volgens die groep is dit hul drome wat hul musiek inspireer. “Ons wil musiek maak, ons wil ’n lewe daarvan maak, ons wil nie net noodwendig bekend wees en geld hê nie, ons wil ons musiek met mense deel en ons wil hê mense moet daarvan hou. Dit wat ekstra na ons kant toe kom is net ’n bonus.”
En wat is die grootste les wat hulle al geleer het? “Doen waarin jy glo, moet nie iemand anders probeer wees nie, maak musiek waarvan jy hou en doen dit vir die liefde vir musiek,” antwoord hulle uit een mond! Hulle beskou hul grootste uitdaging sover om die musiek by hul gehoor uit te kry.
Intussen toer hulle tans met hul album, Vrede vir almal… en beplan ook twee Kaapse toere en is druk besig om aan hul volgende album te werkskaf, wat vir vroeg volgende jaar beplan word.