Die talentvolle sanger Damian Beer, wat vir die eerste keer landwyd aandag getrek het as deelnemer in Die Kontrak Seisoen 3, is terug met ’n splinternuwe enkelsnit – “Lewenslyn”. Dié liedjie, wat tydens sy deelname aan die gewilde musiekreeks bekend geword het, kry nou uiteindelik sy langverwagte amptelike vrystelling, en dit beloof om diep te resoneer met luisteraars regoor die land.
Damian beskryf “Lewenslyn” as een van sy eerste oorspronklike vrystellings vir die jaar. “Hierdie liedjie is een van die liedjies wat ek op die bekende Die Kontrak 3 gesing het. Dit was ’n spesiale oomblik toe ek dit die eerste keer in die ateljee hoor – ek het dadelik geweet dis nie net nóg ’n liedjie nie, maar eerder ’n ‘fight song’. Ek het myself onmiddellik met die woorde vereenselwig.”
Die liedjie val binne die moderne Afrikaanse pop- en rockgenre, en spreek temas van vasgevang wees aan – of dit nou emosioneel, in verwagtinge of in liefde is. Dit gaan oor daardie soeke na betekenis in ’n tyd wanneer alles onseker voel.
“Dis die S.O.S-gevoel wat baie van ons al ervaar het – daardie lae oomblikke wanneer jy wonder of daar enigsins ’n pad vorentoe is. Maar daar’s ook hoop, ’n vasberadenheid om aan te hou probeer – selfs as jy val,” verduidelik Damian.
Die lirieke is die werk van die talentvolle liedjieskrywer Emil Paul, wat dit spesiaal vir Die Kontrak geskryf het. Damian se rou, eerlike vertolking tydens die kompetisie het dit onmiddellik ’n gunsteling onder kykers gemaak. “Ons het ná afloop van die reeks só baie navrae gekry vir die volle weergawe van ‘Lewenslyn’, dat ek en my span dadelik besef het – hierdie lied móét die wêreld sien.”
Vir Damian beteken die liedjie baie meer as net musiek. “Ek hoop die publiek gaan dit ontvang soos wat ek dit ontvang het die eerste keer toe ek dit hoor. ‘Lewenslyn’ is nie net my storie nie – dis ons almal s’n. Mense gaan iets van hul eie lewens daarin sien, hul eie emosies daarin hoor.”
Hy glo mense sal aanklank vind by die diep boodskap. “Dis soos kuns in ’n gallery – elkeen sien iets anders. Ek glo ‘Lewenslyn’ gaan vir baie mense die antwoord wees waarna hulle soek.”
’n Musiekvideo is ook reeds op YouTube te sien. “Ons is besig met iets totaal vars,” sê Damian. “Die video volg ’n karakter wat vasgevang is in ’n moeilike tyd in sy lewe. Ons gebruik steierwerk binne ’n fabriek as simbool vir die emosionele en fisiese struikelblokke.”
Wat dié video besonders maak, is die kombinasie van kommersiële aantrekkingskrag en internasionale visuele styl. “Ek voel dit gaan iets wees wat Suid-Afrikaners verstaan én terselfdertyd iets nuuts bied wat ons nie gereeld in plaaslike musiekvideo’s sien nie.”
Vir die produksie werk Damian saam met ’n indrukwekkende span. Kreatiewe videograaf Leon Barnardt neem leiding agter die kamera. Haarstyl word behartig deur Hair by Elzaan, terwyl Damian se lewensmaat sorg vir grimeerwerk en alle agter-die-skerms materiaal. Die stel word gebou in samewerking met Bright Idea Projects, en Damian en sy bestuurder, Chrizaan Neethling, is self betrokke by die skryf en regie van die musiekvideo.
Kyk die musiekvideo hier:
“Ek wil hê mense moet voel hulle kan aanhou. Selfs al voel dit of jy op is, is daar altyd ’n lyn wat jou terug trek – jou lewenslyn.”
Met “Lewenslyn” gee Damian Beer nie net vir ons ’n kragtige liedjie nie, maar ook ’n roerende herinnering dat elke mens se storie betekenis het – selfs in die donkerste oomblikke. Hierdie is beslis ’n snit wat luisteraars oor en oor gaan wil hoor.
