Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Joe Foster: Volgende Stap

Coleske Artists (2018)

Joe Foster se tweede solo-album album, Volgende Stap wat uit tien Afrikaanse sowel as drie Engelse snitte bestaan, is simbolies van die splinternuwe musikale seisoen wat hy nou in sy loopbaan betree. Dit volg drie jaar na die uitreiking van sy debuut solo-album, Hartklank met verskeie reuse treffers waarvoor hy ’n welverdiende Ghoema-toekenning vir Pop album van die jaar gewen het. Hierdie uiters begaafde kunstenaar het oorspronklik as liedjieskrywer en lid van die gewilde groep, ADAM bekendheid verwerf waarna hy in 2014 sy solo-loopbaan met die topverkoper film, Pad Na Jou Hart se temalied as ’n stewige fondasie afgeskop het.

Die elektro-pop aanslag van hierdie uiters persoonlike album wat op uiteenlopende plekke regoor Suid-Afrika opgeneem is, word deur Jake Odendaal en Ruan Graaff op elektriese kitaar asook deur Adam Howard op trompet bewerkstellig. Joe het nie slegs al dertien oorspronklike snitte op dié album self geskryf asook die meeste daarvan self vervaardig en gemeng nie, maar het boonop ook die omslag daarvoor self ontwerp. Die oorwegend donker ondertoon daarvan word met ligte skynsels van wynrooi en grys afgewissel as simbool van hoe sy donker gemoed plek maak vir die lig om deur te skyn sodat sy nuutgevonde vreugde sigbaar is.

Die titelsnit, Volgende Stap handel oor hoe twee mense daarin slaag om ten spyte van al die seerkry uit hulle verlede hul verhouding na die volgende vlak te kan neem. Look Away wat deur Fred den Hartog vervaardig en deur Dane Taylor gemeng is, vertel hoe iemand erken dat hy of sy nie meer braaf genoeg is om ’n masker te dra en sy of haar pyn vir die wêreld weg te steek nie. Vrede Maak, die eerste enkelsnit vanaf dié album is ’n ope versoek deur die skrywer aan sy geliefde oor hoe hy te werk moet gaan om haar vergifnis te verkry.

Die eksperimentele aard van die produksie op hierdie album wat plek-plek selfs na klubmusiek neig, bereik ’n hoogtepunt met die alternatiewe snit, As Die Mure Val waarop Joe sy kletsrym vaardighede inspan om groter geloofwaardigheid daaraan te kan verleen. Voel My Pols is Joe se duet met Johan C. Venter waarin hulle met hul Afrikaanse vertaling van Eli Lieb en Brandon Skeie se aangrypende treffer oor homoseksualiteit, Pulse ongetwyfeld vir ’n vokale kragtoer met ’n aanvoelbare teerheid sorg. Soos net ’n man kan wat hulle ook saam geskryf het, is ’n polsende danstreffer wat dié album op ’n hoogtepunt afsluit.

Dié uiters persoonlike album met sy vernuwende elektroniese klanke bied heelwat stof tot nadenke oor waarom andersheid eerder deur die mensdom aanvaar as verwerp behoort te word. Joe Foster slaag met behulp van die spreekwoordelike nuwe baadjie wat hy op dié album aantrek daarin om ’n splinternuwe mark vir homself oop te kerf sonder om sy reeds bestaande aanhangers heeltemal uit die oog te verloor. Volgende Stap met sy openhartige lirieke, ritmiese melodieë en onteenseglike eerlikheid sal beslis aanklank vind by diegene wat nie vir introspeksie oor die lewe, die liefde en verhoudings wegskram nie.