Joshua na die Reën: Die Wêreld Binne My

JNDR Musiek (2016)

Joshua na die Reën se tweede album, Die wêreld binne my wat vroeër vanjaar vrygestel is, bied ’n eerlike, rou en byna poëtiese aanslag, gestroop van enige elektroniese foefies. Dis deur elke persoon se uniekheid geïnspireer en dien beslis as ’n waardige opvolger vir sy selfgetitelde debuutalbum waarop oorvloedige hoop sowel as kinderlike drome geseëvier het. Hy waag dit egter hierdie keer om ook minder aangename emosies soos die vrese, teleurstellings en tekortkomings waarmee hy as mens elke dag worstel openlik aan te spreek.

Die wêreld binne my is ’n uiters persoonlike album soos blyk uit die talle liedjies daarop vir familie en gesinslede: Weef in die Maanlig vir sy vrou, Danél, Vanuit die wolk vir hulle dogtertjie, Anán, Vyftig vir sy ma, Gerda en Heuwels en Berge vir wyle ouma, Hybrie. Al wat nog kort, is een vir sy pa, Kobus. Dis opvallend dat die titels van die liedjies op hierdie album selde in die lirieke daarvan neerslag vind, maar eerder deur indirekte verwysings daarna vervang word. Jacques de Villiërs het al die lirieke op die album self geskryf behalwe Sonnekind deur Renardo Treurnich met intertekstuele verwysings na Jan Blohm se liedjies, Sewe Jaar en Groen Trui.

Die TUKS Camerata Koor onder leiding van Michael Barret verleen ’n unieke tekstuur aan die album se oorhoofse klank in vergelyking met die oorvloedige aantal strykinstrumente wat op die vorige een gehoor kon word. Alhoewel dit weereens as Stadium Rock bestempel kan word, maak dit tog van ’n veel groter verskeidenheid klanke en instrumente gebruik om die skrywer se emosies te kan raak. Ben Ludik wat die opnames saam met Gerhard Roux behartig het, is ook die vervaardiger van dié album. Tim Lengveld is vir die bemeestering daarvan verantwoordelik.

Die proloog, Droogte dien as ’n vooruitwysing na verskeie natuur elemente soos die son, maan, reën, wolk, wind, stof, veld, berge, heuwels en valeie wat deur die loop van dié album ter sprake kom. Dit sal letterlik soms vir die luisteraars voel asof hulle die stof streep in die veld kan ruik en die ligte bries van die aandwind op hul vel kan voel. Buiten die titelsnit, Die wêreld binne my beloof Dromers en Stroomop asook Stof en Sterre om ook nog groot treffers onder sy aanhangers te word.

Dromers beskryf die proses van hoe ’n droom ontstaan, groei en dan uiteindelik verwesenlik word asook al die opofferings wat daarmee gepaard gaan deur na sentrale figure in die wêreldgeskiedenis te verwys. Stroomop pleit by die luisteraars om aan hulleself getrou te bly ten spyte van die verskeie afdraaipaaie wat die lewe waarskynlik soms met hul sal neem. Stof en Sterre spreek die begeerte uit dat die mensdom sal begin om anders na die wêreld te kyk sodat die alledaagse (stof) in die buitengewone (sterre) kan verander. Die wêreld binne my word afgesluit deur drie bonussnitte wat onderskeidelik op die klankbane van die rolprente, Ballade vir ’n Enkeling, Hollywood in my Huis en Vir Altyd gehoor kan word.

Die lirieke, verwerkings, programmering, vervaardiging en selfs die album omslag getuig van dié kunstenaar se heilige ontsag vir die krag van musiek asook sy besonderse intieme verhouding met die natuur. Die wêreld binne my met sy sterk aanspraak op die menslike sintuie is nie slegs vir die fynproewer nie, maar vir enigeen op soek na hul ware self bedoel. Joshua na die Reën is ongetwyfeld ’n woordsmid wat weet hoe om woorde en beelde kunstig te verenig sodat dit nie net sy emosies weergee nie, maar ook ’n bepaalde boodskap by sy gehoor tuis bring.

Leoné Prinsloo

Leoné het haar BA graad in Kommunikasiestudies asook Honneursgraad in Dokumentêre Videoproduksie beide Cum Laude aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus behaal. Verder het sy ook ’n aanlynkursus in Sosiale Mediabestuur deur Get Smarter in samewerking met die Universiteit van Kaapstad voltooi.